GRAAFF-REINET NUUS - Blackie Swart, inwoner en eienaar van KarooRus-gastehuis in Jansenville, is verlede Vrydag as braaibroodjiekoning gekroon by Graaff-Reinett Advertiser se braaibroodjiekompetisie nadat beoordelaars, Almaré Fourie, Anziske Kayster en Robert Scott, eenparig beslis het dat sy broodjie ongetwyfeld die lekkerste is.
Blackie vertel dat hy met verskillende vulsels geëksperimenteer het omdat sy vrou en kinders glad nie tamatie eet nie.
"Ek het maar begin om verskillende goed op te sit totdat my vrou eendag gesê het; dís die een!"
Die verrassingselement wat Blackie se braaibroodjie so besonders maak is biefstukgegeurde Simba-skyfies wat hy kombineer met uie, kaas en avokado om 'n voortreflike smaakervaring te skep.
Hanmarie Eysen is as naaswenner aangewys met haar mengsel van roomkaas, soetrissiesous, geprosesseerde kaasskyfies en uie. Sy sê dat daar eendag van die roomkaas en soetrissiesousmengsel oorgebly het nadat haar ma dit vir iets anders gebruik het.
"Ek het besluit om dit op my braai-broodjies te toets en toe werk dit! Die roomkaas- en soetrissiesous gee aan die broodjie so 'n lekker ekstra oemph en dit is beslis iets anders as gewone ou kaas en tamatie," vertel sy.
Annelize Lategan wat die derde plek verower het, gebruik groenvy, spek, maaskaas en rooi ui om haar unieke braaibroodjie op te tower. Sy verduidelik dat dit nie 'n alledaagse braaibroodjie is nie, maar wel 'n braaibroodjie vir spesiale geleenthede omdat dit nogal 'n duur storie is om te maak. Sy verduidelik dat sy met verloop van tyd met verskillende vulsels gespeel het en dit so aangepas het totdat dit vir haar en haar gesin perfek was.
Blackie Swart stap weg met die wenprys: drie bottels wyn geskenk deur Jakkalsvlei Wyne; twee nagte se verblyf by die Camdeboo Nasionale Park se Lakeview-tentkamp en gratis toegang vir twee persone vir drie dae tot die park se bewaringsgebied.
Voor, van links: Hanmarie Eysen (naaswenner), Annelize Lategan (derde plek), Anziske Kayster (beoordelaar) en Almare Fourie (beoordelaar). Agter: Blackie Swart (wenner) en Robert Scott (beoordelaar). Foto's: Chrizanne Janse Van Vuuren
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'