Update
ABERDEEN NUUS - "Dit was tien voor twee in die nag. Ek het geslaap toe 'n geklop aan die deur my wakker maak. Ek het gedink dis Aden en gewag om hom te hoor roep na my soos altyd as hy by die huis gekom het," vertel 'n gebroke Janine Vena (27), jonger suster van Aden Esau (31) wat op Sondag 15 Desember vermoor is.
Die persoon by Vena se deur was haar tannie met skokkende nuus: haar geliefde broer is vroeër die nag doodgesteek.
Vena probeer haar emosies beheer terwyl sy die gebeure herroep.
"My tannie het gesê sy bring slegte nuus. Dat Aden met 'n mes doodgesteek is. Die woorde uit haar mond het glad nie sin gemaak nie. Aden? Hoe en waar? En deur wie sal my broer van alle mense met 'n mes gesteek word? Hy gaan mos nie na sulke plekke nie! Dis die goed wat deur my kop gegaan het."
Die aand voor Esau se dood het hy en sy kêrel saam met vriende by 'n huis in Noordstraat gekuier. Deur die loop van die aand het 'n hewige onderonsie ontstaan en glo uiteindelik gelei tot Esau se dood vroeg die oggend toe hy na bewering deur sy kêrel aangeval is.
Die Aberdeen-polisie het dieselfde nag die 19-jarige man in verband met die moord in hegtenis geneem.
Renaldo Frederick, ook van Aberdeen, het Maandag 16 Januarie in die Graaff-Reinet-landdroshof verskyn en weer die Dinsdag en die Donderdag. Hy was in aanhouding, maar is na sy verskyning op 26 Januarie vrygelaat.
Nie Vena of haar suster, Trulisha Vena (20), het die hofverrigtinge bygewoon nie.
Vena was uitstedig en het pas teruggekeer na Aberdeen. "Ek moes eers my kop gaan skoonmaak."
Haar suster woon op 'n plaas buite Aberdeen.
Vena het nog nie vir Frederick gesien vandat sy terug is nie en sê dat sy dit op hierdie stadium so verkies. Sy waardeer die plaaslike polisie se vinnige optrede, maar het nie veel vertroue in die regstelsel nie.
"Aden is dood en ons het hom begrawe, maar sy moordenaar sit by die huis terwyl Aden se plek in ons huis leeg bly. Waar is daar geregtigheid in dit?"
Sy vertel dit was maar altyd die vier van hulle. "Mammie, Aden, ek en Trulisha. Toe net ek en Trulisha in die huis. Mammie is twee jaar gelede oorlede en Aden was in die Kaap. Toe gaan Trulisha plaas toe en net ek bly agter. Verlede jaar Oktober kom Aden terug en ons juig, want my broer is by die huis ... en nou? Nou is hy, soos mammie, vir altyd weg."
Sy mis haar broer se sonnige geaardheid.
"Hy het altyd so mooi en oop geglimlag en was altyd gereed met 'n grappie of om iemand 'n poets te bak." Vena sê hy was saggeaard en het weggeskram van konfrontasie.
Vena sowel as Esau se vriende vertel hy het met soveel hoop en drome teruggekeer na Aberdeen. "Hy wou 'n verskil maak."
As sy die tyd kon terugdraai en vir haar broer een boodskap kon gee, sou dit wees om versigtig te wees, dat hy te goedgelowig is en moet onthou jou eie hond byt die heel seerste.
"Maar nou is dit te laat, is dit nie."
Die datum van Frederick se volgende hofverskyning kon nie teen saktyd vasgestel word nie.
Van links is Aden Esau se susters Janine en Trulisha Verna en Esau en hulle oorlede ma, Truitjie.
Die aangeklaagde, Renaldo Frederick (19)
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'