CRADOCK NUUS - Die NG Gemeente van Cradock-Noord het vroeër in Maart 'n prettige aflos-fondsinsameling gehou.
"Ek wou aanvanklik 'n sakeaflos beplan, waar besighede teen mekaar meeding, maar ek was bang dat individue dan nie sou wou deelneem nie," vertel Gerhard Greyvenstein, een van die organiseerders.
"Hierdie was egter die eerste van vele aflosgeleenthede, want ons beplan om dit 'n gereelde instelling te maak, en die kompetisie sal dan later onder sy eie naam bemark word. Die groot sukses van hierdie geleentheid getuig van die belangstelling wat daar in ons gemeenskap geheers het. Hetsy as deelnemers of as toeskouers. Ek glo ook dat ons later selfs teen buurdorpe soos Graaff-Reinet, Somerset-Oos, Middelburg en Queenstown kan meeding."
Een-en-dertig spanne van vyf lede elk - 'n totaal van 155 deelnemers - het gaan aflos hardloop. Elke lid moes die sowat 1 km om Laerskool Cradock voltooi en dan oorgee aan die volgende spanmaat.
Die beste span, wat blitsig die eerste vyf rondes voltooi het, was Supa Quick - onder leiding van Greyvenstein.
Speedy Smurfs was by verre die besgeklede span, en Gerber, Botha en Gowar Ouditeurs se S.W.A.T-span het sommer met die intrapslag gewys dat hulle slaggereed is vir enige gebeurlikheid en die beker as span met die meeste gees verower.
Die kinderhuis op Cradock, Huis Betesda, se inwoners het skoonskip gemaak onder die juniors en sommer ver gewen. Die Musiekspan-dames van Noord-gemeente het die skilpadbeker as stadigste span gewen en sê hulle is vasberade om die titel in 2024 te behou.
Gerber, Botha en Gowar Ouditeurs-firma het die meeste spanne ingeskryf en die aflosstok-wisseltrofee kantoor toe geneem.
NG Gemeente Cradock-Noord bedank elke borg en deelnemer wat die fondsinsameling so lekker gemaak het. Sonder Laerskool Cradock se fasiliteite sou die dag nie so suksesvol kon wees nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’