STEYNSBURG NUUS - Abraham Coetzee (Abe) is op 23 Februarie 1948 in Steynsburg gebore en hy sterf ook daar, tussen die mense wat hy onbeskryflik liefgehad het, op 30 Desember 2022.
Hy was onlangs siek, maar hy en almal om hom het geglo dat hy die siekte gewen het.
Abe het as Stadsklerk van Hofmeyr en Steynsburg groot respek afgedwing tydens sy loopbaan.
"Hy het altyd die grootste respek getoon aan sy seniors, en toe hyself gevorder het tot 'n senior, het hy almal wat sy junior was, steeds met dieselfde deernis, meelewing, liefde en respek behandel," getuig Christo en Sharon Keyter wat vir baie jare met Abe saamgewerk het.
Abe en sy eggenote, Marinda, is 51 jaar terug in die huwelik bevestig. Twee kinders is uit die huwelik gebore. Armand en Debbie, en hul het ook twee kleinkinders.
"Sedert hul aftrede het Abe steeds die Gereformeerde Kerk as eerste prioriteit in sy Christelike lewe gesien, en tydens tye wat dié gemeente herderloos was, sou hy meer as sy plig teenoor gemeentelede doen," deel Rhyn Kruger, nabye vriend van wyle Abe, mee.
Abe het ook tot en met sy heengaan gedien op die beheerraad van die Marais Steyn Tehuis vir bejaardes, waar hy geliefd en bemind was.
Sy eggenote Marinda en hul dogter Debbie, is ook nou betrokke by die tehuis.
Sy gesin en vriende onthou hom as 'n kalm en rustige persoon met 'n groot voorliefde vir kosmaak!
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'