GRAAFF-REINET NUUS - Die nuutste misdaadstatistieke wat vroeër vandeesmaand deur die nasionale polisie bekendgemaak is, toon 'n groot afname van verskeie misdrywes in die Graaff-Reinet area.
Gewone diefstalle in die area toon 'n 2% afname, alhoewel daar steeds 'n skokwekkende 717 klagtes in dié verband vir die 2017/18 boekjaar aangemeld is.
Die polisiegroep se hoof, Brigadier Rudolph Adoph het gesê die afname in die verskeie kategorieë van misdaad is 'n positiewe toonbeeld van die polisie se werk, ten spyte van verskeie uitdagings.
Adolph sê ernstige oortredings het 'n algehele 5.41% afname getoon, behalwe vir verkragtings wat met 4%, en brandstigting wat met 16%, gestyg het.
"Daar was swaar vonnisopleggings vir verkragters wat 'n sterk boodskap aan seksuele oortreders uitgestuur het," het Adolph gesê.
Hy sê brandstigting en kwaadwillige beskadiging van eiendom in meeste gevalle word toegeskryf aan gesinsgeweld.
"In baie gevalle is dit families wat rusie ondermekaar het wat dan hierdie misdrywes meebring."
Verergerde roof, bedoelende dat die rower met 'n dodelike wapen toegerus was, 'n medepligtige gehad het of die slagoffer ernstig beseer het, het 'n afname getoon van 19% en algemene roof 'n afname van 34%.
Volgens Adolph is veediefstal 'n groot uitdaging.
Hy meen in meeste gevalle is die oortreders dwelmmisbruikers.
Die misdaadstatistieke het dan 'n groter aantal moorde en seksuele misdrywe vir 2018 in die Graaff-Reinet area getoon.
In vergelyking met die vorige jaar waar die breë Graaff-Reinet-omgewing 22 moorde gesien het, dui die statistieke 23 moorde vir hierdie jaar aan.
Sowat 13 moorde is in 2015 gerapporteer, wat die laagste aantal moorde sedert 2009 was en die hoogste was 25 moorde in 2010.
Slegs vyf gevalle van poging tot moord is vir hierdie jaar aangemeld, waar 10 verlede jaar aangemeld is.
Die hoogste getal was 11 gevalle in 2016 en twee gevalle in 2014.
Sowat 59 gevalle van seksuele misdrywes is aangemeld.
In vergelyking met 2017, is dit 14 méér gevalle as in 2018.
In 2014 is die minste hoeveelheid van 35 gevalle van seksuele misdrywe aangemeld en 'n verbysterende 68 in 2012.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'