Video
KAROO NUUS EN VIDEO'S - Die Oos-Kaap word weereens deur swerms sprinkane geteister.
Francois Oosthuizen van die Graaff-Reinet-rolbalklub, het gesê dat daar gistermiddag ‘n massiewe swerm sprinkane op hul bane geland het.
“Gelukkig het ons vooraf gespuit, so hulle het redelik vinnig gevrek, maar ons het steeds gespuit toe die swerms geland het. Die bane het bietjie skade gekry, gelukkig is dit nog nie heeltemal winter nie en kan die gras nog groei.”
Sportvelde van skole in Graaff-Reinet het ook onder die swerms deurgeloop.
Volgens Megan Maritz van Agri Oos-Kaap, is daar tans in Jansenville ‘n swerm van oor die 10 000 hektaar.
“Dit is ‘n groot probleem, want die boere ly skade. Die ander probleem is die feit dat ons ‘n ernstige te kort aan gif het om te spuit.”
Volgens haar is daar tans ‘n swerm in hul sit-fase in Aberdeen.
“Dit is die maklike fase om te beheer. Ons kan hulle spuit terwyl hulle sit, nie terwyl hulle vlieg nie.”
Ander areas wat geraak word is Graaff-Reinet, Pearston, Somerset-Oos, Steytlerville, Kleinpoort en Kirkwood.
Die sitrusplase is, volgens haar, ‘n R 3 biljoen-industrie wat in gedrang is as gevolg van die sprinkane wat verwoesting saai.
Oos-Kapenaars word gevra om swerms wat hulle teëkom aan te meld.
“Ons het ‘n pin location van die swerms nodig en ook min of meer hoe groot hulle is. Mense wat byvoorbeeld ry van Jansenville na Port Elizabeth kan sê dat hulle deur ‘n swerm van ongeveer drie kilometer gery het. Dit is belangrik sodat ons die spanne op die grond wat moet spuit kan laat weet hoeveel gif hulle gaan nodig hê.”
Stuur die inligting per WhatsApp na 079 490 7864 of na die department landbou in De Aar. Skakel hulle by 053 631 3621.
Verskafde video deur Francois Oosthuizen:
VIDEO - Union High School se sportterrein voor die sprinkane. Video verskaf deur Mariette Burger:
FOTO'S - Union High School se sportterrein na die sprinkane. Foto's verskaf deur Mariette Burger:
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'