Update
GRAAFF-REINET NUUS - Nog 'n reusesprinkaanplaag het verlede week en vroeg dié week die Oos-Kaap bereik.
Wes-Kaapse minister van landbou, Ivan Meyer, het die week in 'n verklaring gesê dat hulle bekommerd is oor die swerms wat in die Oos-Kaap is.
"My departement en die provinsiale rampbestuursentrum is besig om 'n asseseringsverslag te finaliseer om die skade aan die landbousektor te bepaal.
"Die verslag sal as 'n basis dien sodat die provinsiale en nasionale rampbestuur-sentrums 'n rampklassifikasie kan aanvra en saam met die rampbestuursentrums in die Oos-Kaap werk."
Volgens Francois Oosthuizen van die Graaff-Reinet-rolbalklub, het daar Sondag-middag 'n massiewe swerm sprinkane op hul bane geland.
"Gelukkig het ons vooraf gespuit, so hulle het redelik vinnig gevrek, maar ons het steeds gespuit toe die swerms geland het. Die bane het bietjie skade gekry, gelukkig is dit nog nie heeltemal winter nie en kan die gras nog groei. Ons het kruiwavragte vol sprinkane weggegooi."
Sportterreine van skole in Graaff-Reinet, sowel as die gholfbaan het ook onder die swerms deurgeloop.
Megan Maritz van Agri Oos-Kaap, het die week aan Graaff-Reinet Advertiser gesê daar was in Jansenville 'n swerm van oor die 10 000 hektaar. "Dit is 'n groot probleem, want die boere ly skade. Die ander probleem is die feit dat ons 'n ernstige tekort aan gif het om te spuit."
Volgens haar was daar ook 'n swerm in hul sit-fase in Aberdeen. "Dit is die maklike fase om te beheer. Ons kan hulle spuit terwyl hulle sit, nie terwyl hulle vlieg nie." Ander areas wat geraak word is Pearston, Somerset-Oos, Steytlerville, Kleinpoort en Kirkwood.
Die sitrusboerdery in die omgewing is, volgens haar, 'n R3 biljoen-industrie wat in gedrang is as gevolg van die sprinkane. Sprinkane hoef ook nie noodwendig 'n vloek vir boere te wees nie.
Volgens 'n ingeligte bron waarmee die Advertiser dié week gesels het, mis die sprinkane waar hulle sit en is dit goeie kompos vir die grond.
"Die verwoesting wat gesaai word is hartseer en die skade is groot. Dit maak dus sin dat die sprinkane gespuit word. Die groot probleem kom egter nog. Wanneer die sprinkane sit, lê hulle ook eiers en kan die swerms wat daarna uitbroei veel groter wees as dié wat tans aanskou is."
John Crankshaw probeer van die sprinkane op Hoërskool Union se skoolterrein ontslae raak.
Die hoeveelheid skade wat aangerig is kon nog nie bepaal nie. Die waarnemende parkbestuurder van die Camdeboo Nasionale Park, Johannes Plaatjies, het gesê dat die swerms ook verskeie nasionale parke in die Oos-Kaap bereik het. Dit sluit die Karoo Nasionale Park en die Mountain Zebra Park in.
"Uit 'n omgewingsoogpunt is die sprinkane nie 'n slegte ding nie. Dit is siklies." Hy het wel erken dat die sprinkane landbou 'n groot knou toegedien het, maar by parke stimuleer die sprinkane weer die groei van die plante en voed hul mis die grond. Oos-Kapenaars word gevra om swerms wat hulle teëkom aan te meld. "Ons het 'n pin location van die swerms nodig en ook min of meer hoe groot hulle is.
"Mense wat byvoorbeeld ry van Jansenville na Port Elizabeth kan sê dat hulle deur 'n swerm van ongeveer drie kilometer gery het. Dit is belangrik sodat ons die spanne op die grond wat moet spuit kan laat weet hoeveel gif hulle gaan nodig hê."
Stuur die inligting per WhatsApp na 079 490 7864 of na die department landbou in De Aar. Skakel hulle by 053 631 3621.
Hordes sprinkane is die week by die Graaff-Reinet-rolbalklub verwyder. Foto's verskaf
Vorige artikel: Sprinkane reuseprobleem in Oos-Kaap
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'