GRAAFF-REINET NUUS — Die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se raad het dié instansie se begroting vir die 2017/18-boekjaar op ’n spesiale raadsvergadering op Dinsdag, 23 Mei, aanvaar.
Die begroting is volgens die burgemeester, Deon de Vos, die eerste stap na finansiële herstel in dié munisipale-distrik.
In 'n toespraak oor die opstel van die begroting, het De Vos gepraat oor die uitdagings wat die munisipaliteit in dié verband in die gesig gestaar het, soos, onder nadere, die verskillende tariewe wat in die voormalige munisipaliteite gebruik is.
"Ons kom van verskillende munisipaliteite waar verskillende sosio-ekonomiese omstandighede heers. In hierdie verskillende munisipaliteite is verskillende beleide en tariewe gebruik - dit word in die nuwe begroting weerspieël."
Die burgemeester het genoem dat die vorige aantal maande gekenmerk is deur finansiële probleme wat die munisipaliteit ondervind het sedert sy stigting na die 2016 plaaslike verkiesing.
De Vos het gemeld dat die raad gepoog het om die tariefkostes so bekostigbaar moontlik te hou en alhoewel die tariefstrukture van die voormalige munisipaliteite van mekaar verskil het, het die burgemeester verduidelik dat die tariefstabilisering oor die volgende drie jaar ingefaseer sal word.
Tydens die begrotingsvergadering is die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP), Ruimtelike ontwikkelingsplan asook die Dienslewerings- en begrotingsimplementerings-planne vir 2017/18 ook goedgekeur.
Die slegte nuus vir inwoners is dat die goedgekeurde begroting wel beteken dat tariefverhogings vir dienste binnekort sal plaasvind.
Die volgende verhogings sal vanaf 1 Julie van krag wees:
Elektrisiteit (1,88%), water (6,4%), riooldienste (6,4%), erfbelasting (6,4%) en vullisverwydering (6,4%).
Die kapitaalbegroting beloop sowat R407,3 miljoen waarvan 72% aan Korporatiewe Dienste, Infrastruktuur en Tegniese Dienste, sowel as Elektriese Dienste spandeer sal word. Direkte ondersteuning aan arm huishoudings beloop 6% van dié begroting - omtrent R22 746 145.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'