GRAAFF-REINET NUUS - DA-raadslid Ricardo Smith het onlangs sy wyk 2-hernuwingsprojek van stapel gestuur.
Smith en twee plaaslike besigheids-eienaars, wat verkies om anoniem te bly, probeer in samewerking met inwoners, dinge wat die munisipaliteit nie kan bybring nie, gedoen kry.
Dit sluit die verf van padstrepe, skoonmaakaksies en die aanbring van vullisdromme in. "Ons het verf vir die paaie bekom en in die Horseshoe begin. Die munisipaliteit het twee werkers beskikbaar gestel."
Twee vullisdromme, geskenk deur Midland Ford, is oorkant Urquhart Park geïnstalleer, maar kort daarna gesteel.
"Dit is hartseer, maar ons gaan nie toelaat dat dit ons demotiveer nie. Ons kan nie langer agteroor sit en toekyk hoe die wyk verder verval nie. Ons moet hande neem om ons wyk vorentoe te vat," sê Smith.
"Dit kan werk, maar so 'n projek soos dié is nooit maklik nie. Ons benodig geld om dit 'n sukses te maak want dis duur om goed reg te maak. Ons het werklik die ondersteuning van plaaslike besighede en individue nodig." Smith beklemtoon dat hulle glad nie self enige geld hanteer nie.
'n Rekening is by Graaff-Reinet Harde-ware oopgemaak en alle skenkings kan daar inbetaal word.
Kontak Smith by 060 363 4208 of stuur 'n e-pos na ricardosmith083@gmail.com.
Raadslid Ricardo Smith besig in die Horseshoe.
Raadslid Ricardo Smith (regs) en een van die munisipale werkers verf strepe op die kruising van Bourke- en Somersetstraat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’