GRAAFF-REINET NUUS - Hoërskool Carel du Toit in Steytlerville spog deesdae met 'n splinternuwe skoolhoof, Carol Brandt-Hoffman wat in 2023 die leisels oorgeneem het ná 32 jaar by Asherville Sekondêr in Graaff-Reinet.
Brandt-Hoffman is die eerste vrouehoof in die geskiedenis van die skool.
Hoffman vertel dat sy nie gedink het dat sy die betrekking sou kry nie. "Ek het die bulletin deurgegaan en die pos gesien en net 'n kans gevat," sê sy.
"Ek het aanvanklik nie eens vir enigiemand vertel dat ek aansoek gedoen het nie. Omdat die betrekking in 'n ander dorp is, het ek wel vooraf vir my twee dogters, Kiah en Xarah, gevra of ek aansoek mag doen. Vir my ma het ek natuurlik eers vertel nadat ek vir die onderhoud gegaan het omdat ek geweet het dat sy my sou keer."
Hoffman sê dit was moeilik om haar ma en kinders in Graaff-Reinet agter te laat, maar sy is baie gelukkig in die nuwe dorp en skool.
"Die onderwysers het uit hul pad gegaan om my welkom te laat voel. Ons is 'n lekker span en ons werk baie lekker saam," sê sy.
"Die ouers het ook gesê dat hulle bankvas agter my sal staan om van die skool 'n groot sukses te maak."
Sy geniet die ganse gemeenskap se steun. "Rolspelers soos die munisipaliteit, die departement van maatskaplike ontwikkeling en selfs die plaaslike ANC-tak het uit die staanspoor hulp aangebied. Die ANC-tak het alreeds vir die netbalkinders klere geskenk en die departement van maatskaplike ontwikkeling het vir die dogters doekies geskenk. Die gemeenskap het baie groot respek vir my en ek waardeer dit geweldig baie."
Hoffman het groot planne vir Carel du Toit. "Die skool se getalle het reeds gegroei, maar ek hoop dat dit so sal groei dat ons binnekort 'n onderhoof kan aanstel," sê sy.
Wat die kurrikulum aanbetref is sy besig om probleemareas te identifiseer.
Op die oomblik is dit haar grootste prioriteite om die gr. 8-leerders behoorlik te leer lees en die gr. 12-uitslae te verbeter. Daarvoor het sy reeds die nodige sisteme in plek. Dan wil sy ook toesien dat toerisme binnekort op gr. 10-vlak infaseer word. Sport is ook 'n groot prioriteit. "Die kinders is uitgehonger vir sport," sê sy.
"Ons het vroeër die jaar 'n atletiekbyeenkoms gehad en dit is baie goed ondersteun." Sy sê dat sy haarself daarop wil toespits om die skool se sport verder te ontwikkel en sportsoorte soos sokker in te bring. Verder is dit vir Hoffman baie belangrik dat haar leerders sal besef hoe belangrik dit is om mekaar te ondersteun en 'n verskil te maak. Daarom moedig sy hulle aan om, byvoorbeeld, bloed te skenk. "Die skool se onderwysers is vir my net so belangrik," sê Hoffman.
"Een van my grootste doelwitte is om geleenthede vir die ontwikkeling van die onderwysers te skep." Sy wil toesien dat daar nooit weer 'n skoolhoof van buite hoef in te kom nie sodat een van Carel du Toit se eie onderwysers eendag die leisels kan oorvat.
Sy is positief oor die skool se toekoms en sien uit na 'n vrugtevolle jaar.
Agtergrond
Carol Brandt-Hoffman het aan St Colmcille Sekondêr in Kirkwood matrikuleer. Daarna het sy haar hoër onderwysdiploma aan die Peninsula Technical Training College (Pentech) - vandag bekend as die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) - verwerf. In 2008 het sy ook haar BEd honneursgraad verwerf.
Hoffman se onderwysloopbaan het in 1990 by Asherville Sekondêr in Graaff-Reinet begin. Sy was verbonde aan hierdie skool as onderwyseres tot einde verlede jaar. In haar laaste jaar het sy ook as skoolhoof waargeneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’