KAROO NUUS - "Here bewaar ons asseblief wanneer ons na ons vakansiebestemming reis," hierdie is die gebed wat vele motoriste aflê voordat hulle 'n welverdiende vakansie in die komende feesseisoen neem.
Wanneer motoriste agter die stuur van 'n motor inklim weet hulle wat die risiko behels - daarom maak jy seker almal dra hulle veiligheidsgordels, skakel die hoofligte aan sodat die voertuig opsigtelik is vir ander motoriste, en maak kinders vas in karstoeltjies.
Die gedagte aan 'n motorongeluk is angswekkend en mense dink nie graag daaraan nie - nog minder dat iemand 'n bloedoortapping sal nodig hê indien die ergste gebeur.
In 'n gesprek met Arlecia November, toesighouer van bemarking en skakelwese by die Wes-Kaapse Bloeddiens in George, sê sy dat dit wonderlik sal wees as die Wes-Kaap die jaar geen tekorte in bloedgroepe gaan ervaar nie.
Klinieke word landswyd deur hierdie weldoeners bestuur. "Dit is nie nodig om vooraf 'n afspraak te maak nie, ons het klinieke in verskillende dorpe reg-oor die Suid-Kaap," sê November.
Die tema vir die jaar se Wes-Kaapse Bloeddiens is, 'Jy het soveel om te gee'.
Wie kan almal bloed skenk?
November vertel dat hulle 'n skenkerdatabasis van gesonde, onbetaalde skenkers wat gereeld bloed skenk handhaaf. Dit is bewys as die veiligste bron van 'n lae risiko bloedvoorraad. Die basiese vereistes is dat die skenker tussen die ouderdom van 16 en 75 is; meer as 50 kg weeg; gesond op die dag van skenking is; en 'n veilige seksuele leefstyl handhaaf.
"Indien u nie gesond voel op die dag van skenking nie, mag u nie skenk nie," sê November.
Die personeel sal die skenkersproses verduidelik en enige vrae wat jy het kan met die mediese personeel aan diens bespreek word.
Hoe berei iemand voor om bloed te gaan skenk?
November sê dat skenkers of potensiële skenkers asseblief 'n ligte maaltyd so drie ure voor die tyd moet nuttig.
- Skenkers vul 'n persoonlike vraelys eerlik in
- Besonderhede word gelaai en 'n vingerpriktoets word gedoen om jou hemoglobienvlak (ystervlakke) te bepaal
- Mediese keuring word gedoen en jou bloeddruk word gemeet
- Ontvang jou bloedpak en gaan na die skenkerbed toe
- Skenk jou eenheid bloed (nuwe, steriele toerusting word gebruik vir elke skenking)
- Skenker geniet verversings
November sê skenkers gaan met normale aktiwiteite voort, maar word aangeraai om nie te oefen en swaar toerusting op te tel na skenking nie. Oefening mag na 72 uur weer hervat word.
Skenkings per jaar
Die wagperiode om bloed te skenk is 56 dae, so 'n persoon kan normaalweg ses keer per jaar skenk. 'n Seniorprogram vir skenkers wat oor 65 jaar oud is stipuleer dat hul slegs vier keer per jaar mag skenk.
Vir diegene wat skrikkerig is, sê November dat jy wel die prik sal voel wanneer die naald in jou arm gaan, maar jy nie ongemaklik sal voel gedurende die skenkingsproses nie. Indien wel, sal die naald verwyder word.
Waarvoor is die bloed
Bloed word in drie komponente verdeel:
- Plasma - bevat belangrike stollingsproteiene en word gegee aan pasiënte met bloeisiekte
- Bloedplaatjies - word gegee aan pasiënte wat 'n risiko het om te bloei weens lae plaatjietellings, soos pasiënte met leukemie of kanker of diegene wat wag op 'n orgaanoorplanting
- Rooibloedselle - word gegee aan pasiënte wat anemies is of wat bloed verloor het tydens trauma, bv, kindergeboorte of operasies.
Die Wes-Kaapse Bloeddiens sal weer op 5 en 19 Desmeber vanaf 13:00 tot 19:00 by die De Jager Sportkompleks wees. Indien u wil uitvind waneer hulle in u omgewing is kan u www.wcbs.org.za besoek of skakel 044 874 2074.
Artikel: Oudtshoorn Courant