Update
GRAAFF-REINET NUUS - Nadat besorgde ouers van Ryneveld Primêr verlede Woensdagoggend, 2 Maart, by die skool bymekaargekom het om hul misnoeë oor sekere kwessies uit te spreek, was daar spoedig positiewe terugvoer.
Net die volgende dag is twee onderwysers aangestel vir die klasse wat tot dusver sonder onderwysers was.
Die ouers het ook op dieselfde dag briefies ontvang waarin hulle na 'n vergadering vir die verkiesing van 'n nuwe skoolbeheerliggaam uitgenooi is.
Die funksionering van die huidige skoolbeheerliggaam was een van die kwessies waaroor ouers hulself uitgespreek het.
Volgens Jesmine Williams was daar aanvanklik ongelukkigheid omdat nie al die ouers hierdie briefies ontvang het nie, maar dis glo gou opgelos.
Sy sê die enigste bekommernis is nou dat die nominasievorms deur die genomineerde persoon en twee ander persone – die voorsteller en die sekondant – geteken moes word en dat al drie hierdie persone in mekaar se teenwoordigheid moes teken.
Sommige ouers woon baie ver van mekaar en die meerderheid het nie voertuie nie. Daar is ook ouers wat voltyds werk en dus nie tyd gehad het om hul nominasievorms te laat teken nie.
Omdat die nominasieproses so moeilik was, het sommige ouers glo besluit dat hulle nie die nominasievorms gaan invul nie, maar daarop gaan aandring om tydens die verkiesingsvergadering die kandidate te nomineer.
Williams is van mening dat dit moontlik probleme mag skep, maar sy glo dat die verkiesing wel die gewenste resultate sal lewer. Die verkiesingsvergadering was op Woensdag 9 Maart, maar ongelukkig was daar teen druktyd nog geen terugvoering nie.
Vorige artikel: Ouers betoog oor toestande by Ryneveld Primêr
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'