GRAAFF-REINET NUUS - Besorgde ouers van Ryneveld Primêr in Graaff-Reinet het Woensdagoggend by die skool bymekaargekom om hul misnoeë oor sekere voortslepende kwessies uit te spreek.
Volgens die ouers het hierdie kwessies tydens 'n ouervergadering op 2 Februarie aan die lig gekom en drie ouers is toe afgevaardig om dit met die skoolhoof te bespreek. Een van die grootste kwellings is die haglike toestand van die toilette.
Die ouers sê dat hierdie toilette nooit skoongemaak word nie en in daardie stadium al so vuil was dat wurms daarin uitgebroei het. Dis natuurlik 'n groot gesondheidsrisiko vir die kinders wat hierdie toilette moet gebruik en sommige het glo alreeds ongemaklike gesondheidsprobleme ontwikkel as gevolg daarvan.
Die ouers vertel verder dat die kinders deesdae te bang is om van die toilette gebruik te maak en dit het tot gevolg dat van die kleiner kinders hulself benat of bevuil omdat hulle net eenvoudig nie langer kon uithou nie. Dit lei dan natuurlik tot onnodige spottery wat die kind se selfbeeld geweldig afbreek.
Die drie afgevaardigde ouers het hierdie probleem op 3 Februarie onder die skool-hoof se aandag gebring en sy het onderneem om 'n vergadering tussen die ouers en die skool se beheerliggaam te reël sodat die probleem bespreek en 'n oplossing gevind kan word. Dié vergadering sou op 9 Februarie plaasvind, maar het nooit plaasgevind nie omdat dit glo op kort kennisgewing was. Die hoof het egter nooit weer teruggekom na die ouers met 'n alternatiewe datum vir hierdie vergadering nie.
Chris Passman vertel dat die onder-voorsitter van die beheerliggaam hom in die straat voorgekeer het om vir hom te sê dat sy nie die vergadering sal bywoon nie omdat sy nie dom is nie en dit haar dom sal laat lyk indien sy met dom mense vergader.
Hy vertel verder dat die toilette wel baie mooi skoongemaak is toe die department verlede maand die skool besoek het, maar daarna was dit maar net weer dieselfde.
Van die ouers het al skriftelik aangebied om self die toilette skoon te maak, maar by navraag het die skoolhoof glo gesê dat sy nooit die brief ontvang het nie.
Die ouers is glad nie tevrede daarmee dat lede van die beheerliggaam poste by die skool beklee nie, omdat dit volgens hulle die beheerliggaam se funksionering beïnvloed.
Die agt werkers wat by die skool aangestel is as algemene werkers sit glo heeldag in 'n ry voor die skool met hul selfone en doen glad nie die werk waarvoor hulle aangestel is nie. Daaraan word niks gedoen nie omdat sommige van hierdie werkers op die beheerliggaam is terwyl die beheerliggaam juis veronderstel is om oplossings vir sulke tipe probleme te vind.
Ná bewering is die voorsitter van die beheerliggaam byvoorbeeld ook die skoonmaker by die skool en daarom word klagtes rondom, onder andere, die vuil toilette net eenvoudig geïgnoreer.
Passman noem dat daar ook van 'n skool se beheerliggaam verwag word om geld in te samel.
"Ryneveld skool is een van die armste skole in Graaff-Reinet, maar die beheerliggaam doen geen moeite met fondsinsamelings nie. Vir hierdie jaar was daar nog nie een funksie om geld in te samel nie en verlede jaar was nie veel beter nie."
Jesmine Williams is van mening dat die hele beheerliggaam ontbind moet word omdat hulle bevooroordeeld is en oor die algemeen niks beteken nie. Sy sê dat die poste van die werkers wat heeldag sit en niks doen ook geadverteer moet word sodat gewillige mense aangestel kan word.
Sy noem dat dit nie moeilik behoort te wees nie, omdat sommige betaalde poste vroeër vanjaar binne een dag as vakant adverteer en sommer weer gevul is. Die kinders het glo op 'n Woensdag met die briefies by die huis aangekom om die ouers in kennis te stel dat die kontrakte van die skool se kombuispersoneel verstryk het en net die volgende dag is daar onderhoude gevoer en nuwe aanstellings gemaak.
Die tekort aan onderwysers is ook een van die ouers se groot bekommernisse. Volgens die ouers het die skoolhoof belowe dat alle vakante onderwysposte by die skool teen 9 Februarie gevul sou wees, maar dit is nou al amper eksamentyd en daar is steeds twee klasse sonder onderwysers.
Volgens Magdolene Ligman het haar kind se gr. 1-onderwyseres verlede jaar eers in die tweede kwartaal skool toe gekom, omdat sy op kraamverlof was en hierdie jaar is daar al weer geen sprake van 'n onderwyser nie. "Ek voel ongelukkig omdat dit nou al die tweede jaar is wat my kind sonder 'n onderwyser sit."
Die hekwag by Ryneveld Primêr het die hekke gesluit toe die ouers by die skool opdaag en toegang geweier.
Graaff-Reinet Advertiser is ook toegang geweier. Sy verduideliking was dat die skoolhoof nie beskikbaar is nie omdat hy so sê, en dat hý sal besluit wanneer sy beskikbaar sal wees. Ten spyte van die versoek dat die hekwag die skoolhoof moet roep, het sy glad nie uitgekom nie.
Besorgde ouers van Ryneveld Primêr in Graaff-Reinet het Woensdagoggend by die skool bymekaargekom om hul misnoeë met omstandighede by die skool uit te spreek.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'