HOFMEYR NUUS - 'n Plaaslike inwoner het besluit om 'n boom, wat haar Wi-Fi-sein benadeel, af te saag.
Dié delikate taak om die takke van die denneboom die een na die ander af te saag, het 'n paar dae geneem.
"Die werkers het reeds teen Donderdag aan die ou boom in Cormackstraat begin saag, maar hier teen Dinsdag het ek gesien hier kom moeilikheid, want toe het die takke met die kragdrade verstrengel geraak en kort voor lank het die vonke gespat," berig 'n buurman oorkant die straat.
"Ek het nog die werksaamhede dopgehou toe my vrou uit die huis laat weet die krag is af."
Die hele boonste kwart van die dorp is onmiddellik sonder krag gelaat aangesien 'n transformator beskadig is. In dié huishoudings was daar vanaf Dinsdag tot Sondag geen kragtoevoer en ook geen water óf warm water nie.
"Ons het ons aanvanklik gewend tot wet-wipes vir persoonlike higiëne, maar ná twee dae was dit lankal nie meer voldoende nie en moes ons by vriende in ander dele van die dorp gaan aanklop vir 'n warm bad."
Met die ter perse gaan was daar beloftes dat die transformator teen Woensdag (gister) vanaf Oos-Londen sou arriveer.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'