GRAAFF-REINET NUUS - 'n Wag van GAP Management-sekuriteit is Sondagoggend, 11 Augustus om 5.30vm by die Umasizakhe-sokkerveld deur drie gewapende mans beroof.
Die verdagtes het die wag met messe oorval, en hom van twee selfone en 'n flits beroof.
"Die wag is gelukkig nie gesteek nie, maar wel hardhandig behandel," het die firma se operasionele bestuurder vir die Karoo, Willem Botha, aan die Advertiser gesê.
Volgens Botha is meer as 20 gevalle van roof en aanranding op sy wagte die afgelope jaar by die Collie Koeberg-sportkompleks aangemeld.
By die Nqwebe-dam se wal, waar Botha se wagte 'n substasie oppas, is ook al verskeie wagte aangerand. "Een is al dood in 'n aanval, en van die wagte is by die damwal afgegooi. Ons ondervind nie soortgelyke probleme in ander dorpe nie."
Graaff-Reinet en omgewing se polisiewoordvoerder, kaptein Bradley Rawlinson, het gesê die mans het na die rooftog op 11 Augustus eenvoudig net van die toneel weggestap.
"Hulle is nie bekend aan die sekuriteitswag nie. Nog geen arrestasies is gemaak nie," het Rawlinson gesê.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'