GRAAFF-REINET NUUS - Net 'n paar kilometer van die Graaff-Reinet perdeskoen se skoon strate en prentjiemooi argitektuur bly sommige mense van Graaff-Reinet in vullis en vuilheid.
Volgens inwoners van dié areas is die rede hiervoor dat die plaaslike munisipaliteit, die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit, maande laas hier skoongemaak het.
"Dit is regtig onmenslik om só te lewe. Die rommel kom al in ons huise," vertel Lorraine Buys.
Buys bly in 'n woning langs een van die onwettige stortingsterreine in Vinkstraat, Asherville.
"Ons verstaan dat voertuigprobleme en siekverlof 'n rol met munisipale dienslewering speel, maar dit kan seker nie maande so aanhou nie," voer sy aan. "Wat sou die rede wees dat daar toegelaat word dat die vullis só ophoop? Ons het baie klein kinders wat tussen die rommel rondkrap en speel en wie weet watse siektes hulle als kan optel?"
Sias Smith, ook 'n inwoner van Asherville, sê, "Groot hoeveelhede rommel lê die oop erwe en omliggende veld vol en die groot munisipale vullishouers is duidelik maande laas leeggemaak."
Dit is nie net inwoners van Asherville wat mor oor die vullis in hul woonbuurt nie, inwoners van Kroonvale is ook bitter ongelukkig oor munisipale dienslewering wat vullisverwydering aanbetref.
"Die veld langsaan Republiekstraat in Kroonvale sit al met berge vullis wat nie verwyder word nie. Dit waai dan weer stelselmatig die hele woonbuurt in," sê 'n ontstoke inwoner van Kroonvale. "Die onwettige rommelstorting is besig om handuit te ruk. Oral word daar hope vullis neergestort en daar word net niks daaromtrent gedoen nie. Die vullis word nie skoongemaak nie en die oortreders word nie beboet daarvoor nie."
Die Graaff-Reinet Advertiser het reeds sedert die begin van die jaar tientalle klagtes hieromtrent ontvang.
Ander areas wat geïdentifiseer is, sluit gebiede in Umasizakhe, die oop stuk grond langsaan Kollegeweg by die ingang na Reinet Park, Hoopstraat, die rivierbed en die leë erwe in Bergendal in, onder andere.
Rondloperhonde skeur sakke oop en vuil weggooidoeke, gebruikte kondome en sanitêre doekies lê vir dae aaneen op hierdie hope.
Buiten die klagtes wat aan die Advertiser gerig word, kla die inwoners net so op sosiale media.
Die meerderheid voel dat Graaff-Reinet as 'n geheel, nie skoon gehou word nie, en almal is dit eens, dit kan nie so aanhou nie.
Volgens Wilca Smith, die waarnemende kommunikasie beampte van die munisipaliteit, is die munisipale bestuur uiters bekommerd oor die gereelde en aanhoudende storting van huishoudelike en ander vullis in die dorp se woongebiede.
"Dit het 'n negatiewe impak op die gesondheid en veiligheid van inwoners. Knaagdiere en muskiete broei in hierdie vullishope en kinders wat in die omgewing speel, word aan geroeste spykers, gebreekte glas en oor die algemeen onhigiëniese toestande blootgestel," meen Smith.
Sy voer aan, "Die munisipaliteit wil graag hierdie gebiede ontwikkel in ruimtes wat inwoners kan geniet en waarop hul trots sal wees en wat `n omgewingsbewustheid sal skep, maar die onwettige storting van vullis deur dié gebiede se eie inwoners is besig om so drasties toe te neem, dat dit geweldige uitdagings, wat die verwydering van vullis aanbetref, veroorsaak."
Die munisipaliteit vra om verskoning aan die geaffekteerde inwoners, maar verseker hulle dat die saak dringend aandag kry.
"Ons wil ook die inwoners vra om nie rommel in oop spasies te strooi nie.
Wees trots op jou woongebied, help skoonmaak en rapporteer die oortreders," sluit Smith af.
Laastens maan die munisipaliteit inwoners om hul vullis op die regte dae uit te sit, sodat dit dieselfde dag nog deur die munisipaliteit opgetel kan word, en dus so te voorkom dat rommel die strate vol lê.
• 'n Ander kwessie wat inwoners warm onder die kraag het is die krisissituasie waarin die munisipale stortingsterrein net buite Graaff-Reinet op die N9 na Aberdeen dit self in bevind.
Die Advertiser het oor die feeseisoen hieroor aanlyn by www.graaffreinetadvertiser.com berig, maar meer hieroor sal in 'n toekomstige uitgawe van die Advertiser verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'