Update
GRAAFF-REINET NUUS - Die Rare Huisvroue van Graaff-Reinet het inderdaad daad by die woord gevoeg nadat hulle vroeër bekend gemaak het dat hulle hierdie jaar groter wil gaan met hul uitreike na die gemeenskap.
Díé groepie dames het aanvanklik bymekaar gekom om mekaar te ondersteun maar later ook begin om groter projekte met dieper betekenis aan te pak.
Hulle het al voor Covid met gemeenskapsuitreike begin en die eerste daarvan was die “doekie drive” waartydens hulle sanitêre doekies aan die leerders by plaaslike skole oorhandig het.
Die Rare Huisvroue het die jaar afgeskop met welwillendheidswerk en onlangs besoek by die Jordaan gesin in Geluksdal afgelê om klere, skoene en beddegoed te oorhandig.
Hierdie gesin het al hul aardse besittings verloor toe hul huis aan die brand geslaan het. Catherine Solomon-Reid, sameroeper van die Rare Huisvroue, verduidelik dat een van die dames se eggenoot op die uitvoerende bestuur van die Camdeboo Development Forum dien en dat hulle so van die Jordaan gesin se skade te hore gekom het.
Die Rare Huisvroue is met groot dankbaarheid verwelkom en trane van blydskap het gevloei. Edwin Jordaan, seun van Eddie en Hendriena Jordaan, beklemtoon dat hulle baie dankbaar is vir die ondersteuning wat hulle van die gemeenskap en verskillende organisasies ontvang het sedert die brand.
Hy vertel dat hulle steeds nie weet wat die brand veroorsaak het nie. “Die brand het baie skielik begin en baie vinnig alles vernietig,” sê hy.
“Dit was ‘n aaklige ervaring vir ons as gesin maar ons probeer maar om daardeur te werk en aan te gaan met ons lewens. Ons glimlag maar so deur die moeilike tye want ons wil nie toelaat dat die hartseer ding wat ons oorgekom het ons onderkry nie.”
Hy voeg by dat hulle darem nou weer besig is om aan te bou. Catherine Solomon-Reid noem dat dit werklik ‘n voorreg is om ‘n verskil in mense se lewens te kan maak en dat dit hulle soveel plesier verskaf. Sy beklemtoon dat hulle die gemeenskap se ondersteuning hoog op prys stel. “Ons ontvang soveel mooi woorde en bemoedigende boodskappe. Dit is werklik hartverblydend om te weet dat ons waardeer word.
” Sy voeg by dat die Rare Huisvroue se volgende uitreik beplan word vir Maart wanneer hulle beoog om een hospitaalsaal se pasiënte met ‘n geskenkpakkie te bederf. “Moedersdag is ook ‘n definitief. Ons wil graag ons eie moeders, dogters en kleinkinders bederf met ‘n geselige ete en kuiertjie,” sê sy.
Vorige artikel: Die rare huisvroue van Graaff-Reinet
Die Rare Huisvroue by die hopie puin wat oorgebly het van die gesin se besittings. Van links - Linda Reid, Mary Ann Swartz, Arnielle Swartz, Nolene April en Catherine Reid
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'