GRAAFF-REINET NUUS - Een ding waaraan Graaff-Reinet beslis nie te kort skiet nie, is besondere mense met edele intensies. Die Rare Housewives of Graaff-Reinet, soos die vroue hulself noem, is die toonbeeld hiervan.
Hierdie elf vroue het aanvanklik bymekaar gekom om mekaar te ondersteun, maar deesdae pak hulle ook groter projekte met ingrypende betekenis aan.
Catherine Solomon-Reid vertel sy het die groep gestig na sy teruggekeer het uit Johannesburg waar sy vir 'n paar jaar gewerk het en lid van 'n soortgelyke groep was.
"Ek het besluit om die dames bymekaar te bring sodat ons kan gesels en saam kan lag en huil," verduidelik sy. "
Ons het maar klein begin. Ons was aanvanklik net drie wat bymekaar gekom het om Kersfees saam te vier. Vandag is ons altesaam elf - almal oorspronklik van Graaff-Reinet - wat gereeld bymekaarkom om in mekaar se lief en leed te deel en mekaar se lewens te verryk."
Sy sê hulle laat mekaar veral op verjaarsdae spesiaal voel. "Ons koop vir die persoon 'n mooi geskenkie van haar keuse en sy sal dan op haar beurt iets doen om ons so bietjie te vermaak."
Catherine vertel dat hulle mettertyd besluit het dat hulle graag wil uitreik na die gemeenskap. Daarmee het hulle al voor Covid begin. Die groepie se eerste uitreik was 'n "Doekie Drive" waartydens hulle sanitêre doekies aan leerders by plaaslike skole oorhandig het. "Die waardering vir dit wat ons gedoen het was verstommend. Dit was so lekker om 'n verskil te maak by skole waar ons eens skoolgegaan het."
Volgens Catherine wil hulle hierdie jaar 'n bietjie groter gaan met hul uitreike en elkeen van die dames is bereid om diep in hul eie beursies te krap.
"Ons het nog nie ons eerste vergadering gehad nie, maar ons het alreeds besluit dat ons hierdie jaar ook iets wil doen wat 'n lewe kan red," sê sy.
"Ons dink daaraan om, byvoorbeeld, bloed te skenk en speel ook met die idee van orgaanskenking. Ek self is 'n orgaanskenker, maar daar is van die dames wat nog nie so lekker aan die idee byt nie."
Catherine verduidelik vanwaar die naam van die groepie kom. "Ons wil glo dat ons real is, maar ons is eintlik ook baie rare. Ons glo nie aan labelling nie - ons ouderdomme verskil en ons het verskillende statusse, maar ons is een groepie ten spyte van hierdie verskille."
Volgens haar is dit juis dit wat hulle so uniek maak. "Ten spyte van ons verskille het ons baie in gemeen. Ons almal hou daarvan om mooi na onsself te kyk en netjies te lyk. Ons hou ook van eenvormigheid en daarom dra ons altyd T-hempies wat ons vir onsself laat maak het wanneer ons uitreik," sê sy.
"Nog iets wat ons in gemeen het is dat nie een van ons rook nie," sê sy laggend. "Ons vul mekaar werklik aan en die ondersteuning wat ons by mekaar kry is absoluut ongelooflik." Sy is veral verlede jaar baie deur die dames ondersteun toe sy haar man aan die dood afgestaan het weens Covid.
"Ons het onsself aanvanklik Girlas genoem, bloot omdat ons gevoel het dat ons darem te oud is om girls te wees, maar ons het onlangs ontdek dat ons eintlik rare housewives kan wees."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'