GRAAFF-REINET NUUS — Die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit het onlangs 'n kolosale R12.7 miljoen bestee op salarisaanpassings vir hul personeelkorps.
Dié vergoeding is glo gedoen om te verseker dat alle munisipale werkers op dieselfde salarisskaal is na die samesmelting van die drie munisipaliteite wat in 2016 plaasgevind het. Algemene werkers, assistent bestuurders, administratiewe personeel, verkeers-offisiere, brandweer personeel, persoonlike assistente, biblioteek assistente en sekretaresses het hierby baatgevind.
Kommer is egter deur munisipale amptenare die week uitgepreek aangesien daar beweer word dat die miljoene wat gebruik is, geld is wat aangewend moes word vir spesifieke munisipale projekte.
Die munisipaliteit beweer dat hul nie kennis dra van dié griewe nie, maar, volgens die waarnemende woordvoerder van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit, Edwardine Abader, is die rede vir die salarisskaal aanpassings dat Camdeboo 'n graad 3 munisipaliteit was, en beide Baviaans en Ikwezi graad 1 munisipaliteite.
"Die gelykmakingsproses het begin na die samesmelting van die drie voormalige munisipaliteite." Sy sê aangesien die munisipaliteite op verskillende munisipale grade was, verskillende salarisse vir dieselfde posbenamings betaal is, veral vir personeel in die voormalige Ikwezi en Baviaans munisipaliteite.
"Die norm is dat die nuutgevestigde munisipaliteit gradeer moet word volgens die hoogste voormalige munisipaliteit, wat 'n graad 3 is," lui Abader se verklaring.
Abader sê sedert die samesmelting is die personeel egter steeds op verskillende gegradeerde munisipale vergoedingskale besoldig, en daarom moes die vereffeningsproses begin.
"Die proses van gelykmaking het begin met die goedkeuring van 'n metodologie dokument. Die bestuur en georganiseerde arbeid binne die munisipaliteit het ooreengekom oor die inhoud van die dokument." Volgens Abader is die proses afgehandel, en het belanghebbendes die geleentheid gekry om griewe in te dien.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'