KAROO NUUS - Ds. Ben Wiese, leraar van die Afrikaanse Protestante Kerk van Uitenhage en Aberdeen-gemeente het op Saterdagoggend, 6 Mei, 'n eerste pretloop-inisiatief aangebied.
Hy vertel dat hy hierdie pretloop jaarliks op 6 Mei wil aanbied. Sowat 40 deelnemers van heinde en ver het by Die Padstal in Aberdeen bymekaargekom om aan die 17 km-item deel te neem.
Die NG gemeente van Aberdeen was vanjaar gasheer vir die logistieke reëlings en ds. Clifford James en sy vrou, Engela, het saamgestap.
Reëlings moes ter elfder ure aangepas word om die roete te verander, toe toestemming van die provinsiale verkeersowerheid om die N9-pad te kruis, nie bekom kon word nie. Dit het egter nie die geesdrif gedemp nie, maar eerder net die vindingrykheid verhoog.
Die dag is afgesluit met 'n behoorlike kuier en ete op die plaas van waar deelnemers vertrek het. Wiese is dankbaar vir die opkoms en vol vertroue dat 6 Mei 2024 reeds 'n vasgestelde datum op die pretloopkalender is.
Ds. Ben Wiese staan net lank genoeg stil om te groet. Foto: Miems van Loggerenberg
Die geborgde stappers van die verskillende gemeentes is van links Karen Fitzhenry, Neil Pienaar, Kevin McCkay, ds. Ben Wiese, ds. Lee Greyling, ds. Gerrie Kruger en Malinda le Roux. Foto: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’