CRADOCK NUUS - Vroue van die onderskeie takke, wat die Vroue-Landbouvereniging-Cradock (VLV) sirkel verteenwoordig, het Saterdag hul jaarlikse praktiese sirkeldag by True Living se Alfred House, in die opleidingslokaal gehou.
"Vroue vanaf Somerset-Oos-, Tarkastad-, Kookhuis- en Hofmeyr VLV-takke was verteenwoordig. Dié geleentheid is goed bygewoon na jare waarin byeenkomste soos hierdie nie toegelaat was nie," deel Isabel Wilken, sirkel president vanuit die sirkel, mee.
Sorbello Borduurwerk is deur Rika Pienaar, vanaf Hofmeyr-VLV, bespreek en sy het ook die tegnieke- en borduursteke, asook die spesifieke draadtelling van die gaas waarop dié borduurwerk gedoen word, beskikbaar gehad.
Die dames het die geleentheid gehad om praktiese mosaïekhekelwerk te beoefen en Rika het advies gegee oor dié handwerkvorm.
Alta Triegaardt vanaf Kookhuis-tak het die vereistes en tegnieke rondom die voorbereiding van fyn tamatiekonfyt bespreek en sy het ook skilferkorsgebak bespreek en die dames kon haar varsgebakte vleispasteitjies proe.
Liza Troskie het heuningkoeklekkers in glasbottels omgestuur en ook haar werkswyse en wenke met dames gedeel.
Nadia Bosch van Hofmeyr-tak het haar tuisgemaakte sementpotplantbakke kom demonsteer en ook beduie hoe sy te werk gaan om die sement aan die ballonne te laat klou tot droog.
Sekere tegnieke is ook nodig om te verseker dat die bakke oortollige vog absorbeer en net sekere verftegnieke kan daarop gebruik word.
Na tee, waartydens varsgebakte spring rolls met melktertvulsel bedien is, het Alma Bekker vanaf Somerset-Oos, papier maché blombakke kom maak wat die vorm van 'n kop aanneem en dan vorm die plantmateriaal die hare om die gesig.
Isabel Wilken het self inkopiesakke met gebruikte dasse demonstreer en ook verskeie werkswyses vertoon.
Geweefde tafelmatte en gebreide stolas is ook onder die loep geneem deur Dada de Jager van die Hofmeyr-tak, waarna Dalena Smit vanaf Tarkastad-VLV, Denim Kersfeeskranse demonstreer het. Alle versierings op die Kersfeeskranse word ook met herwonne denim gemaak.
Na 'n middagete van Foccacia-broodjies met hoender en Parmaham onder die bome in die tuin, kon die dames elkeen 'n spikkelverfdagboekie versier.
"Die dames het so lekker gekuier en VLV-sirkel Cradock gaan regtig meer van hierdie geleenthede aanbied," deel Isabel Wilken mee.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'