KAROO NUUS - Morné Jooste (53), 'n versekeringsmakelaar het al die pad van Potgietersrus na Aberdeen gekom om in die eerste groep stappers te wees wat van 24 tot 28 April die splinternuwe 101 km Camdeboo Challenge-staproete in die omgewing aan te durf.
Jooste het die roete voltooi om geld vir die Potgietersrus-dienssentrum vir bejaardes in te samel en om bewusmaking te skep.
Dié NWO bestaan reeds 37 jaar en bedien ongeveer 363 bejaardes waarvan 58% se enigste inkomste 'n staatspensioen is, sê Jooste.
Hy dien ook op die beheerraad en het met sy staptog R4 500 ingesamel.
Jurgens Strydom, eienaar van Camdeboo Hiking Trail Adventures, wat die 101 km Camdeboo Challenge aanbied, sê die hele avontuur het vir baie van die deelnemers groot persoonlike oorwinnings besorg. "Hulle het so baie oor hul eie uithouvermoë geleer."
Strydom sê Jooste was baie spesiaal in die groep. "Hy was telkens een van die eerste stappers wat by die verversingspunte aangekom het.
Strydom vertel die stapgroep het saamgestem dat Jooste die stappers altyd laat lag en het werklik 'n hart vir mense.
Strydom het 'n spesiale woord van dank gerig aan al die boere in die omgewing wat deel vorm van die Camdeboo Challenge. "Hulle het Karoo-gasvryheid tot die uiterste toe bewys. Die stappers raak nie uitgepraat daaroor nie."
Hulle sê net so indrukwekkend soos die grootsheid van die Kamdeboo, is die trots waarmee die boere hul boerderye bedryf.
En die bonus van die staproete? "Nou ken ons stappers ook die verskil tussen 'n skaap en 'n Angora-bok!"
Jurgens Strydom, eienaar van Camdeboo Hiking Trail Adventures, is self 'n kranige stapper.
Morné Jooste hou die Potgietersrus-dienssentrum se vlag hoog.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’