CRADOCK NUUS - "Alles is in plek vir 'n kosfees soos nog nooit van te vore."
So sê Christine Pieterse, hooforganiseerder van die Karoo Kosfees. Dié fees vind vanaf 29 April tot 1 Mei plaas.
"Cradock gaan letterlik 'n miernes van bedrywighede wees, met koskenners en stalletjiehouers van oraloor. Maande se beplanning en voorbereiding is in plek, sodat Cradock hierdie jaar die grootste Karoo Kosfees ooit kan aanbied."
Program
Vrydagaand se program by Tuishuise beloof om heelwat besoekers te trek. Die fees vind op Tuishuise en Jenkins Creek se persele plaas.
Lisa Ker van Victoria Manor is in beheer, en 'n volledige program van waar alle stalletjiehouers gevind kan word, is reeds beskikbaar.
"Onthou dat dit reeds saans koud is in Cradock, daarom sal daar warm eet- en drinkgoed by die stalletjies beskikbaar wees. Slegs kaartjiehouers sal toegang hê. Victoria Manor se sekuriteitspersoneel sal ook aan diens wees om almal se veiligheid te verseker," sê Ker.
Talle stalletjies word Saterdag en Sondag by Jenkins Creek, sowat 11km buite die dorp aangebied, en daar is meer as genoeg parkeerplek en 'n heerlike plaasatmosfeer om 'n heerlike kuiergeleentheid te bied.
Daar is hope vermaak vir oud en jonk wat 'n potjiekoskompetisie, verskeie wyn - en bierproegeleenthede en kunswerkswinkels insluit.
Die stalletjies maak Vrydag 10:00 oop en hou aan tot laat.
Vir meer inligting stuur 'n e-pos aan reservations@tuishuise.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Tuinroete nuus'