KLEIN KAROO NUUS - Twee verdagtes, wat 'n veiligheidshek oopgebreek het om toegang tot 'n huis te kry, het hulle rieme lelik styfgeloop toe twee polisiebeamptes van die Attaqua-honde-eenheid met hulle honde na die toneel gestuur is.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het 'n persoon wat in 'n woonstel op die perseel woon, die polisie Saterdagoggend omstreeks 03:30 geskakel en gesê iemand het by die huis ingebreek.
Die huiseienaars was uitstedig.
Die twee lede, sers. Daniël Mc Duling en sy hond, Roy, sowel as sers. Brandon Hifke en sy hond, Duke, het op die oproep gereageer. Nadat die verdagtes nie gehoor gegee het nie is die honde in die huis in gestuur waarna die twee verdagtes gearresteer is.
Hulle is onder polisiebegeleiding hospitaal toe geneem om vir beserings, wat deur die honde toegedien is, behandel te word.
Die verdagtes was in besit van messe en gereedskap wat gebruik is om in te breek. Daar is beslaggelê op gesteelde items wat gereedskap, 'n geheuestokkie en selfoonlaaiers ingesluit het.
Die twee verdagtes, Clinton Olivier (33) en Isaac Pedro (37), het Maandag in die hof verskyn op aanklagte van huisbraak en diefstal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'