Video
GRAAFF-REINET NEWS AND VIDEO — Graaff-Reinetters sal in die nabye toekoms 'n hospitaalervaring van hoogstaande gehalte plaaslik kan beleef met die bouwerk van die projek wat reeds in 2019 gaan afskop.
Dié inligting is verlede Woensdagaand, 27 Junie, met die publiek van Graaff-Reinet gedeel by 'n inligtingsaand by die Botaniese Sportklub wat deur die plaaslike sakekamer gereël is.
Die ontwikkeling is aan die Graaff-Reinet publiek einde-Oktober verlede jaar bekend gestel en dié opvolg-vergadering verlede week het dit ten doel gehad om die publiek in te lig oor watter vordering daar sedertdien gemaak is in dié verband.
Belanghebbendes uit die dorp se besigheidsektor, plaaslike kontrakteurs, munisipale verteenwoordigers en lede van die algemene publiek het verlede Woensdag hiervoor opgedaag om te hoor hoe dié projek vorder.
Volgens Johann Carstens, Macadamia Fund verteenwoordiger, sal hierdie hospitaal met sy beplande 100 beddens,'n neonatale-eenheid, kraamafdeling, intensiewe versorgingseenheid, hoësorgeenheid en 'n sleutelfokus van voorkomende gesondheidsorg, 'n eerste vir die area, die groot behoefte aan privaat sorg in die plaaslike gemeenskap verlig.
Carstens meen dat die nuwe hospitaal, wat tans in die vroeë stadiums van ontwikkeling is, as 'n gemeenskapsprojek aangepak word wat grootliks tot plaaslike ekonomiese groei sal bydra.
Carstens het toe uitgebrei oor die finansiële bestuursproses wat in plek gestel is vir die hospitaal en hoe die ontwikkelaars beplan om die hospitaal te bedryf.
Volgens Carstens word daar beraam dat die hospitaal ongeveer 300 nuwe werksgeleenthede sal skep. Healthshare, 'n firma wat spesialiseer in hospitaal- en gesondheidsorgbestuur, is deur die ontwikkelaars aangestel om die werwing van personeel te bestuur en word daar reeds met dokters, verpleegpersoneel en ander mediese praktisyns - plaaslik en van buite - in gesprekke getree hieromtrent.
Volgens Carstens, het die ontwikkelaars die volste vertroue in Healthshare om dié hospitaal met hoogs-gerespekteerder personeel te beman.
Carstens het verder gemeld dat hul - wat die konstruksie van die hospitaal aanbetref - streng maatreëls in plek gestel het ten opsigte van die tenderproses, om te verseker dat alle diensverskaffers verbonde aan die projek, in staat is om kwaliteit dienste aan die ontwikkeling te lewer, in ooreenstemming met die standaarde en visie van die ontwikkelaars.
Buiten die hospitaal beplan die ontwikkelaars dan ook om terselftertyd 'n leefstyl-oord vir aktiewe afgetredenes te bou. Hier word daar na 200 residensiële eenhede, met 'n addisionele 80 enkelwoonstelle, gekyk. Van dié eenhede sal ook dien as behuising vir die hospitaal se personeel siende dat voldoende behuising van personeel een van die grootste probleme is wat die ontwikkelaars in die gesig staar.
Die ontwikkelaars glo nie dat die bestaande aftree-oorde negatief hierdeur beïnvloed sal word nie as gevolg van die verskil in prysklas asook die feit dat dit meer van 'n leefstylsentrum sal wees wat oor geen dienste soos siekeboeë of soortgelyk sal beskik nie.
Die doel van die ontwikkeling is eerder om 'n gerieflike leefstyl aan inwoners te bied, met die gemoedsrus dat hul slegs enkele minute van gespesialiseerde gesondheidsorg by die privaat hospitaal, bly.
Kyk 'n video hieronder.
Die span wat die publiek verlede Woensdag kom toespreek het, Catherine Brown, Besturende Direkteur van Benguele Healthcare, Derry Heron, ‘n verteenwoordiger van EOH Health Vertical, eiendomsontwikkelaar Jakkie Pretorius en Johann Carstens, Macadamia Fund-verteenwoordiger.
Belanghebbendes uit die dorp se besigheidsektor, plaaslike kontrakteurs, munisipale verteenwoordigers en lede van die algemene publiek het verlede Woensdag hiervoor opgedaag om te hoor hoe dié projek vorder.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'