ABERDEEN NUUS - Dit blyk Aberdeen se misdadigers het 'n ruskans gevat vir die periode Woensdag, 12 Junie, tot Dinsdag, 18 Junie.
Slegs drie arrestasies is in dié Karoodorp gemaak.
Vir dronkenskap, oortreding van 'n interdik se voorwaardes en roekelose en nalatige bestuur het een persoon op elk van hierdie klagtes die dorp se polisieselle besoek. Soos in die vorige week is geen moord-arrestasies in Graaff-Reinet en Aberdeen gemaak nie. Vir ander geweldsmisdrywe is twee persone vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, en een vir aanranding gewoon toegesluit.
Weereens het dronkaards in Graaff-Reinet gewys hoe hulle die polisie slinger-slinger kan besig hou.
Ses is vir dronkenskap en wanordelike gedrag aangekeer, terwyl drie met die bottel in die hand vir drink in die publiek toegesluit is.
Oneerlikheidsmisdrywe, soos huisbraak, diefstal vanaf voertuie, en winkeldiefstal het almal vir een arrestasie gesorg. Drie verdagtes is vir gewone diefstal toegesluit.
Vir die besit van dwelms het die polisie drie arrestasies gemaak. Een persoon is in Graaff-Reinet toegesluit omdat hy 'n interdik se voorwaardes geminag het.
Verkeersoortredings het ook drie mense agter tralies gelaat.
In die landdroshof is een persoon 'n R1 000 boete opgelê, maar die landdros was hom genadig en het dit vir vier jaar opgeskort, op die voorwaarde dat hy nie weer aan 'n geweldsmisdryf skuldig bevind word binne die tydperk nie.
'n Huisbreker is twee jaar tronk toe gestuur, terwyl die minagting van 'n interdik 'n vonnis van ses maande, opgeskort vir vier jaar, op een persoon se kriminele rekord verewig het.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'