GRAAFF-REINET NUUS - Die gewilde restaurant, Pioneers is al vir 14 jaar sinoniem met Graaff-Reinet se welbekende gasvryheid - 'n heerlike Karoo-eetervaring vir reisigers en die spilpunt van sosiale bedrywighede vir plaaslike inwoners.
Hier word elkeen só ruimhartig ontvang, liplekker geëet en aande omgekuier, dat die leuse op die stoep ware gewig dra: "Kom as 'n vreemdeling, verlaat ons as 'n vriend en kom terug as 'n gereelde besoeker."
Op Vrydag 13 Januarie is in egte Pioneers-styl afskeid geneem van die bekende en geliefde pioniers van Pioneers, Almare Fourie en Roelien van den Putte. Meer as 140 plaaslike gaste het vir oulaas kom saamkuier en smul.
Dit was 'n aand van onthou, stories uitruil en afskeid neem, maar ook die viering van 'n nuwe begin.
Alhoewel die restaurant verkoop is, verlaat Almare en Roelien gelukkig nie Graaff-Reinet nie. Roelien gaan voort met haar onderwysloopbaan by Narsingstraat Primêr en bly ook betrokke in die gemeenskap op verskeie vlakke. Almare gaan haar batterye herlaai in Spanje en terugkeer vol nuwe planne om Graaff-Reinetters te bederf met nuwe kulinêre ervaringe. Hulle bedank al die derduisende gaste wat plaaslik en van heinde en ver Pioneers besoek en ondersteun het. Hul sluit die Pioneers-hoofstuk met 'n swaar hart af, maar sien ook uit na 'n rustiger lewensfase.
Gelukkig vir gaste is die huidige personeel steeds te sien by die nuwe restaurant - waardevolle bates wat behoue bly! Hulle self sien uit na die vernuwing wat voorlê en sien dit as 'n positiewe groei-ervaring in hul onderskeie loopbane.
Nuwe era
Die restaurant word herdoop en die nuwe eienaars, Peter en Chantel Annear, het groot planne wanneer hulle in April hul deure oopmaak. Dié Johannesburgse egpaar het hul harte op Graaff-Reinet verloor en die dorp is deesdae hul tweede tuiste. Hulle besit die bekende Cypress Cottage-gastehuis en is versot op die omgewing en geskiedenis.
Hoewel hierdie hul eerste restaurant is, is kos, gasvryheid en hartlikheid niks nuuts vir hierdie twee professionele vlieëniers nie wat ook 'n lugredery besit. Chantel het haar eie, gewilde kosblog met die gepaste naam, The Flying Cook en was ook al op die kassie te sien in The Ultimate Braai Master.
Sy put ontsaglik baie genot uit onthaal en bederf jaarliks op haar verjaarsdag haar vriende met 'n flambojante partytjie om die mense in haar lewe te bedank vir hul vriendskap en ondersteuning. Peter is die rustige reus wat seker maak jy geniet jou tyd saam met hulle en het 'n besonderse liefde vir geskiedenis. Saam sal die twee voortbou om hulle restaurant ook te vestig as bymekaarkomplek vir die gemeenskap en het opwindende planne wat die Karoo-hart van die restaurant steeds warm sal laat klop.
Die Annears bedank Graaff-Reinetters vir die warm ontvangs en voel reeds só tuis dat hulle elke keer met 'n swaar hart terugkeer na Johannesburg en dan vinnig planne maak om weer hier uit te kom.
Hou gerus in Maart sosiale media dop om te sien wat hulle vir die nuwe restaurant beplan.
Nuwe eienaars Chantel en Peter Annear het groot planne vir die restaurant.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'