GRAAFF-REINET NUUS - Die Graaff-Reinet (GRT) Kankervereniging word sedert 2012 deur die Pienk Bome vir Pauline-projek ondersteun. Hierdie unieke projek is deur Carol-Ann van Jaarsveld van stapel gestuur ter nagedagtenis aan haar ma en ouma, albei Pauline, wat aan kanker gesterf het.
Die doel van die projek is om kankerlyers te ondersteun en ook om bewusmaking ten opsigte van kanker, en die stryd wat daagliks daarteen gevoer word, te bevorder.
Die Pienk Bome vir Pauline-projek het in die eerste jaar 4 000-meter pienk lap verkoop en sodoende R210 000 vir die kankervereniging ingesamel.
Vir die afgelope 10 jaar word bome hier steeds in Oktober in pienk toegedraai en ontvang die GRT-kankervereniging 'n gemiddeld van R40 000 jaarliks. Die Graaff-Reinet-kankervereniging is 'n nie-winsgewende organisasie en lewer 'n gratis diens aan alle kankerpasiënte in hul bedieningsgebied wat Graaff-Reinet asook omliggende dorpe – Aberdeen, Nieu Bethesda, Jansenville en Pearston – insluit. Hierdie dienste word bedryf vanuit die kankervereniging se huis te Wesstraat 41 in Graaff-Reinet. Al die vergaderings vind hier plaas en die toerusting en vrieskas met voorafbereide maaltye vir pasiënte word hier gestoor.
Die lede van die GRT Kankervereniging doen gereeld huisbesoeke om pasiënte te evalueer, te ondersteun en ook voorafbereide maaltye of maandelikse kospakkies, afhangend van die pasiënt se behoeftes, te voorsien. Elke lid kry 'n beurt om kos of sop voor te berei en in porsiegrootte houers te verpak.
Hierdie voorafbereide kos word dan gevries en aan pasiënte gelewer soos nodig. Alle pasiënte wat van die hospitaal se pasiënte vervoerbus gebruik maak om na Gqeberha te reis vir doktersafsprake of behandeling, word van 'n padkospakkie ter waarde van R200 voorsien.
Die pasiënte wat van privaat vervoer gebruik maak ontvang 'n bedrag van R700 om by te dra tot brandstofuitgawes. Pasiënte wat na Kaapstad of Bloemfontein moet reis ontvang selfs meer en pasiënte wat iewers moet oornag as gevolg van verlengde behandeling, ontvang elk 'n bedrag van R150 per nag.
Bo en behalwe die bogenoemde verskaf die GRT-kankervereniging ook Ensure byvoeding, volwasse doeke en bydraes vir 'n begrafnistee wanneer nodig. Die dienste wat gelewer word, word moontlik gemaak deur fondsinsamelings en donasies.
Maxi van Aswegen, voorsitter van die GRT-kankervereniging, sê ten spyte van die struikelblokke wat Covid-19 gebring het, het hul toegewyde span versorgers onverpoosd voortgegaan om na die belange van hule sowat 130 pasiënte om te sien.
"Die pasiënte is slegs dié wat tans aktiewe kanker het en sluit nie die ongeveer 90 pasiënte in wat in remissie is nie. Ons verwys na hierdie pasiënte as "survivors". Ons kan met trots sê dat ons geen pasiënte weggewys het gedurende Covid nie." Volgens Van Aswegen verskil die maandelikse uitgawes van die GRT-kankervereniging omdat die getal pasiënte elke maand wissel.
Van Jaarsveld noem dat die mikpunt vir hierdie 10de bestaansjaar van Pienk Bome vir Pauline is om die eerste jaar se bedrag te oorskry. "Ons verkoop hierdie jaar nie net pienk lap nie, maar ook T-hemde, oorkrabbetjies en 'n Rosé-wyn met die naam Pink Trees for Pauline. Ons spog ook met 'n splinternuwe embleem waarin die kleure van die verskillende soorte kanker voorkom. Indien daar hierdie jaar wel R200 000 met behulp van die Pienk Bome vir Pauline-projek ingesamel word, wat gaan ons daarmee doen? Ons pasiënte se sorg is ons eerste prioriteit.
"Die fondse sal dus gebruik word om ons dienste aan ons pasiënte te verbeter," sê Van Aswegen.
Van Aswegen beklemtoon dat opvoeding en bewusmaking oor kanker en die vroeë opsporing daarvan baie belangrik is. Die GRT-kankerverening voel sterk daaroor dat meer voorligtingspraatjies, veral by skole en ouetehuise (vir versorgers), gelewer moet word deur lede.
Die GRT-kankervereniging se dienste is vrywillig, dus ontvang nie een van lede 'n salaris of enige vergoeding vir die werk wat hulle doen nie. Elke sent wat ingesamel word, ook insamelings deur die Pienk Bome vir Pauline-projek, word aangewend vir die sorg van pasiënte.
Verwante artikel: Pienk bome-projek vier 10de bestaansjaar
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'