GRAAFF-REINET NUUS - Die unieke Pienk bome vir Pauline-projek herdenk in Oktober hul 10de bestaansjaar.
Hierdie projek is in 2012 deur 'n dinamiese dogter, vrou en ma van Graaff-Reinet, Carol-Ann van Jaarsveld, van stapel gestuur om kankerlyers te ondersteun en ook om bewusmaking ten opsigte van kanker, en die stryd wat daar daagliks daarteen gevoer word, te bevorder.
Carol-Ann het in Oktober 2011 drie bome op 'n plein in 'n dorpie in Frankryk gesien wat met pienk lap toegedraai was.
"Dit het my dadelik laat dink aan al die bome op Graaff-Reinet se sypaadjies en hoe mooi dit sal lyk as almal toegedraai is. Die idee het begin broei dat fondse op 'n manier vir die plaaslike kankervereniging ingesamel kan word met pienk lap en die toedraai van bome. Hierdie idee is geïnspireer deur my ma en ouma. Albei het die stryd teen kanker verloor en dit is ter herinnering aan hulle wat ek die inisiatief op die been wou bring," vertel Van Jaarsveld.
"Na twee dae het ek alles mooi uitgewerk, vir my man daarvan vertel, en toe hy dink dis 'n goeie idee kon ek nie wag om te begin nie. Ek was egter te skaam om met die idee na die kankervereniging te gaan en het ons destydse bestuurder van die restaurant gevra om dit namens my te doen."
Van Jaarsveld het twee vereistes gehad – omdat beide haar ma en ouma Pauline was moes die naam 'Pauline' in die naam van die projek voorkom en alle fondse vanaf die projek mag slegs vir plaaslike kankerpasiënte gebruik word.
Pienk bome vir Pauline het in die eerste jaar 4 000 m pienk lap verkoop en sodoende R210 000 vir die kankervereniging ingesamel. Sommige besighede het tot R10 000 per meter betaal.
"Graaff-Reinet was pienk en Morning Live het onderhoude met my en die voorsitter van die kankervereniging, Margie Parks, direk uitgesaai. Ons het ook 'n paar ander dorpe uitgedaag om vanaf 2013 aan die Pienk bome vir Pauline-projek deel te neem. Adri Jansen van Nieuwenhuizen van George het nie net die uitdaging aanvaar nie, sy het ook onderneem om soveel as moontlik dorpe in Suid-Afrika te betrek. In Oktober 2013 het 53 dorpe deelgeneem."
Vir die afgelope 10 jaar word bome hier steeds in Oktober in pienk toegedraai en ontvang die kankervereniging 'n gemiddeld van R50 000 jaarliks. Landwyd is daar nou meer as 150 dorpe wat deelneem en in die stede is Kansa betrokke.
Dit alles deur die geloof van een nederige vrou en die toewyding van die Pienk bome vir Pauline-span.
"Dikwels sien ek dat mense 'n boom op 'n ander tyd as Oktober toedraai en dan weet ek dat iemand in daardie huis kanker het of gehad het. Ek glo met my hele hart dat die Here die hele idee van Pienk bome vir Pauline in my kop geplant het. Alle eer aan Hom."
Van Jaarsveld noem dat die Pienk bome vir Pauline-projek se mikpunt vir hierdie 10de bestaansjaar is om die eerste jaar se bedrag te oorskry.
"Ons spog ook met 'n splinternuwe embleem waarin die kleure van die verskillende soorte kanker voorkom."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'