ABERDEEN NUUS - Om 05:00 vanoggend, Kersdag, ongeveer 30km buite Aberdeen op die R61 is die lewens van nóg twee mense geëis in 'n noodlottige trompop botsing tussen twee minibus taxi's.
Die een minibus was leeg. Een bussie was op pad terug na die groter Kaapstad en die ander was op pad na die Oos-Kaap. Meer as 10 insittendes is beseer. Een bestuurder se toestand is kritiek.
Die oorsaak van die botsing is nog onbekend, maar van die insittendes het beskryf dat die een minibus oor die pad geswaai het reg voor die ander een in.
Die moontlikheid dat slaap die bestuurder oorval het, word nie uitgesluit nie.
Die R61 wat die Wes-Kaap en die Oos-Kaap verbind - tussen Aberdeen en Beaufort-Wes - is 'n gewilde minibus taxi-roete, veral oor die Kersseisoen.
Padblokkades word deurentyd gehou gedurende hierdie besige verkeersvloei-tydperk. Uitputting, verlies aan konsentrasie, ongeduld, belemmerde oordeel, en bande wat bars, blyk algemene redes te wees vir soveel ernstige en noodlottige ongelukke op díe pad.
Die ongeluksyfers vanjaar net op díe pad het weer eens bewys dat die bestaande verkeersbeheermaatreëls (soos padblokkades) kwalik voldoende is. Die R61 is reeds bekend as die Pad van die Dood tussen die Wes-Kaap en die Oos-Kaap.
Die wrakke van die 2 minibus taxi's ná die trompop botsing.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'