HOFMEYR NUUS - Die staking by die Oos-Vrystaat Koöperasie (OVK) het Woensdag steeds voortgeduur. Volgens die besturende direkteur van OVK, Stefan Oberholzer, is OVK deel van die Grain Bargaining Council, en een van die vakbonde het uit teenkanting van 'n raadsbesluit die staking uitgeroep.
"Die minimumloon wat OVK betaal, is reeds aansienlik hoër as die nasionale minimumloon. Die staking het 'n direkte effek op aandeelhouers se besigheid. Aangesien dit 'n 'geen werk, geen betaling'-staking is, baat dit nie die stakende personeel nie," het Oberholzer aan aandeelhouers gesê.
Die staking het nie werksaamhede by OVK-takke tot stilstand gebring nie, aangesien daar vinnig planne beraam is. By die OVK-tak in Cradock is van tydelike werkers gebruik gemaak, terwyl die tak in Hofmeyr 'n versoek na boere gestuur het om hul eie werkers saam te bring as swaar goedere gelaai moet word.
Die toonbankklerk by Hofmeyrtak het ook ingespring om mense te help wat nie bewus was van die versoek nie.
By die petrolpompe op Hofmeyr, die enigste brandstofpunt op Hofmeyr, het 'n tydelike werknemer ingestaan.
Op die ganse Hofmeyr is slegs 20 werksgeleenthede beskikbaar, terwyl die inwonertal sowat 5 000 beloop. Sake by Hofmeyr OVK het bykans normaal verloop, maar het verlede Vrydag wel vroeër gesluit.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'