Update
MIDDELBURG NUUS - Die koue weer het nie verlede Donderdagoggend die bekommerde ouers en leerlinge van Ellen Olivier Primêr in Midros gekeer om voor die geslote hekke van die skool hul ongelukkigheid oor gebeure by die skool te kenne te gee nie.
Die groep ontevredenes het reeds Dinsdag 5 April die skool se hekke toegemaak nadat hulle versoeke na meer onderwysers op dowe ore geval het.
"Vanaf 2019 het ons geen nuwe aanstellings vir onderwysers ontvang nie, ons het slegs onderrigassistente wat help, maar hulle is nie gekwalifiseerd nie," het van die onderwysers wat teenwoordig was gesê.
Tydens die optog het die sekretaris van die beheerliggaam, Johnny Padda, gesê dat elke leerling in Ellen Olivier die reg het tot goeie kwaliteit onderrig.
"Besorgde ouers het geen ander weg gesien as om noodgedwonge die skool te sluit nie. Hulle is onrustig oor die huidige situasie en onsekere toekoms van die leerlinge. Daar is 'n tekort aan minstens sewe onderwysers en die onderwysers wat tans hier is buig onder enorme druk om kwaliteitonderrig te verskaf."
Hulle het glo twee weke gelede 'n versoek aan die departement van onderwys gerig oor die aanstelling van nuwe onderwysers. Die departement het nog nie op die versoek gereageer nie.
"Die departement laat ons in die steek," het hy gesê.
Volgens hom word die getal onderwysers jaarliks bereken volgens die hoeveelheid leerders wat in die skool is, maar is die getalle van die onderwysdepartement nie akkuraat nie.
"'n Klas met 45 leerders sonder 'n leerkrag is nou die norm in die skool en nie die uitsondering nie."
Thanduxolo Fatyela kringbestuurder by die Oos-Kaapse onderwysdepartement, het gesê daar is 'n besluit geneem dat slegs vier poste vir Ellen Olivier nodig is en dat een onderwyser aangestel is in pos vlak een.
"Die departement van onderwys plaas gekwalifiseerde onderwysers na skole soos benodig word, maar in menige gevalle wil onderwysers nie verskuif na Ellen Olivier Primêre Skool nie, omdat dit 'n Afrikaans medium skool is," het Fatyela gesê.
Vorige artikel: Ouers sluit skool se hekke
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'