MIDDELBURG NUUS - Die koue weer het nie Donderdagoggend die bekommerde ouers en leerlinge van Ellen Olivier Primêre Skool in Midros gekeer om voor die geslote hekke van die skool hul ongelukkigheid oor gebeure by die skool te kenne te gee nie.
Die groep ontevredenes het reeds Dinsdag 5 April die skool hekke toegemaak nadat hulle versoeke aan meer onderwysers op dowe ore geval het.
“Vanaf 2019 het ons geen nuwe aanstellings vir onderwysers ontvang nie, ons het slegs onderrig assistente wat help, maar hulle is nie gekwalifiseerd nie," het van die onderwysers wat teenwoordig was gesê.
Tydens die optog het die sekretaris van die beheerliggaam, Johnny Padda, gesê dat elke leerling in Ellen Olivier die reg het tot goeie kwaliteit onderrrig.
"Besorgde ouers het geen ander weg gesien as om noodgedwonge die skool te sluit nie. Hulle is onrustig oor die huidige situasie en onsekere toekoms van die leerlinge. Daar is ‘n tekort aan minstens sewe onderwysers, en die onderwysers wat hier tans is buig onder enorme druk om kwaliteit onderrig te verskaf."
Hulle het glo twee weke gelede ‘n versoek aan die departement van onderwys gerig oor die aanstelling van nuwe onderwysers. Hulle het nog nie op die versoek reageer nie. “Die departement laat ons in die steek," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'