Update
ABERDEEN NUUS - "Ouers moet verantwoordelikheid neem vir hul kinders en dit begin by die huis.”
Dít was die boodskap van Yvonne Frasenburg, raadslid van wyk 1 in Aberdeen, Maandag by ’n vrouebyeenkoms.
As deel van Vrouemaand het Frasenburg ‘n byeenkoms vir die plaaslike vroue gereël. Die geleentheid is aangebied in die gemeenskapsaal in Thembalesizwe en verteenwoordigers van beide maatskaplike dienste en die plaaslike slagofferondersteuningseenheid was teenwoordig.
Die maatskaplike nood in die plaaslike gemeenskap is ‘n realiteit waarvan Frasenburg nie wegskram nie. Veral in die lig van die onlangse ontvoering van ‘n vierjarige dogtertjie, is ouers se verantwoordelikheid teenoor hulle kinders ‘n brandpunt wat haar na aan die hart lê.
“Ons vroue moet opstaan en sterk staan; die uitdagings moet aangespreek word."
Gaste het 'n ligte middagete ontvang en nie net geluister na die sprekers nie, maar met oorgawe deelgeneem aan die gespreksonderwerp. Verskeie punte van bekommernis is uitgelig en bespreek, met die algemene voorneme dat ouers verantwoordelikheid vir hul kinders moet neem.
Die eerste persone wat dissipline by kinders moet tuisbring is ouers by hul huise.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'