Gallery
GRAAFF-REINET NEWS - 'n Groepie oudonderwysers bekend as die "recycled teenagers" het onlangs by die Kliphuis bymekaargekom vir 'n gedenkwaardige reünie.
Hierdie onderwysers se onderwysloopbane het op verskillende tye begin, maar hulle word saamgebind deurdat hulle almal by Graaff-Reinet Primêr geëindig het en hul onderwysloopbane daar voltooi het.
Sommige het op jong ouderdomme by Graaf-Reinet Primêr begin toe hulle die professie betree het terwyl ander eers later by Graaff-Reinet Primêr aangesluit het.
Tydens die jare wat hulle saam by Graaff-Reinet Primêr was het daar 'n band van liefde tussen hulle ontstaan wat hulle soos broers en susters aan mekaar verbind het.
Audrey Petersen verduidelik dat die hoofdoel van die reünie was om hierdie band van liefde te laat herleef sodat hulle in nouer kontak met mekaar kan leef.
"Soms sit ek alleen in my huis met stres en bekommernis en ek het niemand om dit mee te deel nie. Ander tye lag ek, maar ek lag alleen. Ons moet daar wees vir mekaar om in mekaar se lief en leed te deel."
Die reünie was ook 'n geleentheid om staaltjies uit die verlede te deel, lekker saam te lag en 'n bietjie pret te hê. Daar is kersies opgesteek om die onderwysers wat nie meer met hulle is nie te herdenk.
Anton Everson, voormalige prinsipaal van Graaff-Reinet Primêr, het die kersie vir die onderwysers opgesteek en Graaff-Reinet Primêr se langslewende onderwyseres, die 83-jarige Sylvia Gabriel, het die kersie vir die onderwyseresse opgesteek.
Gabriel het die Here gedank vir die voorreg om steeds 'n kersie ter herinnering van afgestorwe kollegas te kan aansteek.
Die "recycled teenagers" wil graag hierdie reünie 'n jaarlikse instelling maak en hoop dat meer van hul kollegas in die toekoms by hulle sal kan aansluit.
Oud-onderwysers van Graaff-Reinet Primêr het onlangs 'n reünie gehad.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'