GRAAFF-REINET NUUS — Op Vrydag, 10 Augustus, verwelkom die Hoër Volkskool Oudskolierebond oudskoliere vanaf 1958 tot en met die jongste reüniegroep van 2013.
Die reüniegroepe wat hierdie jaar byeenkom strek van 5-jaar tot 60-jaar.
Ferdie de Wet, ‘n oud-onderwyser van Volkskool, gaan sy 75ste reünie bywoon en prof. JP Rossouw, ook 'n oud-onderwyser, wat tans as Navorsingsdirekteur van die Navorsingseenheid: Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes Universiteit dien, gaan saam met die 1978 reüniegroep kuier.
Hoër Volkskool is alle oud-Volksies se trots en vir die afgelope paar jaar is die skool bevoorreg om ’n nuwe kompleks te hê waar die jaarlikse reüniefunksies aangebied kan word.
Danksy goedgunstelike bydraes van oudskoliere in die verlede was dit moontlik om die swembadkompleks by Hoër Volkskool op te rig en toe te rus vir hierdie doel.
Mense met visie het hande gevat en verseker dat die skool jaarliks noodsaaklike uitbreidings kon doen om die doel te bereik van bekend te staan as een van die beste plattelandse skool in die Karoo.
Hoewel dit ’n aand van kuier en onthou is, word hierdie aand ook gebruik om oudskoliere aan te moedig om ’n naamspasie op die ledebord in die kompleks te koop. En tog wil die Oudskolierebond dit ’n onvergeetlike naweek maak van sport, nostalgie en samesyn.
Vrydagoggend open Volkskool die Interskole-byeenkoms met ’n saalbyeenkoms.
Piet Otto, (matriekklas van 1963) en Rita Theron, (matriekklas van 1968) sal hier hul baadjies oorhandig ter skenking aan die skool - dit gaan saam met baie ander items voortaan in die skool se museum uitgestal word.
Na ’n heerlike tee kan al die oudskoliere teenwoordig deur die skool stap en al die klasse besoek.
Hoër Volkskool het gaste van wyd en suid wat hul reünies kom bywoon oor die naweek - van hulle kom van so ver soos Kanada, Engeland en Australië.
Prof. Dorothea van Zyl sal dan ook die naweek by Volkskool kuier.
Prof. van Zyl doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Stellenbosch.
Sy is as direkteur van die Woordfees en Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek sterk gemoeid met die bevordering van letterkunde, kuns en kultuur op skole, universiteite en in die gemeenskap, en as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek nóú betrokke by samewerking tussen Suid-Afrika en die Nederlande.
Vrydagaand bied die Oudskolierebond ’n reüniefunksie aan in die HVS-swembadkompleks om 18:30. Daar is ’n broodtafel vir voorgereg, gevolg met ’n heerlike ete en nagereg.
Saterdagoggend het elke reüniegroep ’n ontbyt saam met hul klasmaats.
Hiermee nooi die Hoër Volkskool Oudskolierebond graag almal in die omgewing uit om Interskole 2018 saam met hulle te geniet.
Aan die interskole-deelnemers sê die Oudskolierebond graag, "Baie sterkte. Julle is die trots van ons skool en of jy ’n spanlid of ’n ondersteuner is, weet altyd jy is uniek, talentvol en spesiaal. Punte op die telbord is ’n bonus, maar om van die sportveld af te stap met ’n glimlag, is ’n wen!"
Hoër Volkskool se matriekklas van 1963 - hulle hou die jaar hul 55-jaar reünie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'