HOFMEYR NUUS - "Ek het hierdie jaar vir ons 'n lekker roete na interessante plekke beplan oor die twee dae, en almal het dit terdeë geniet," sê Johan Vermaak, koördineerder van die tweede Ou Karre Rally wat verlede week vanuit Hofmeyr die pad gevat het.
"Die uitstappie neem natuurlik 'n tydjie om te beplan, want alle voertuie moet reisvaardig wees. Hierdie jaar het die roete geloop vanaf Hofmeyr, oor Oorlogspoort tot in Noupoort.
Die groep het middagete op Noupoort geniet. Van daar is die grondpad geneem deur die Hanovervlakte na Lessingshoogte en dan verby Kompasberg, wat in 'n pragtige miskombers gehul was.
Die ou karre het ook gaan besoek aflê in Nieu-Bethesda en het oornag by Ganora Gasteplaas. Na 'n heerlike ontbyt het die groep vertrek oor Wapadsberg, links afgedraai in die Spitskopvleipad en teruggekeer na Hofmeyr oor die Conway kruising," vertel Vermaak.
Veertien deelnemers met sewe voertuie het die rit meegemaak, en dit sal voortaan 'n jaarlikse instelling wees.
Die oudste voertuig wat deelgeneem het was die groen 1974 Peugeot 404, wat bestuur is deur haar trotse eienaar, ds. Marius Barnard met Barend Opperman as navigator.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'