ABERDEEN NUUS - ‘n Skoonmaakaksie op die dorp, fisies uitgevoer deur net twee vroue, is ‘n voorbeeld vir ‘n ieder en elk.
“Desember is die tyd van die jaar wanneer ons dorp die geleentheid kry om ‘n indruk op vakansiegangers van oor die land te maak. Op 20 Desember verlede jaar het ek om my rondgekyk en besef ons dorp kan regtig skoner wees as wat dit is,” vertel Jurgens Strydom, voorsitter van die Aberdeen Toerisme Assosiasie (ATA) oor Operasie Opruim.
Strydom sê al het hy die projek begin, het Beauty Klaaste en Gaynor Green onder leiding van Lizzy van der Merwe, die werklike verskil gemaak.
Klaaste en Green het in bestek van drie dae rommel langs die dorp se hooftoegangsroetes opgetel en ook die middedorp skoongemaak.
Munisipale werkers verantwoordelik vir die wegry van vullis, het die vroue sien skoonmaak en onmiddellik aangebied om die sakke rommel na die stortingsterrein te ry.
Van der Merwe het toegesien dat groot, sterk herbruikbare sakke gebruik word en die sakke is daagliks by die stortingsterrein leeggemaak en dan weer die volgende dag gebruik.
Operasie Opruim het in drie fases geskied - drie dae voor Kersfees, drie dae voor Nuwejaar en nog drie dae vroeg in Januarie.
Die besigste gedeeltes van die dorp is twee keer skoongemaak met die fokus op probleemgebiede in die groter dorpsgebied.
“Die dames het nie onderskei tussen tuinvullis en ander rommel nie. Hulle het eenvoudig voor die voet skoongemaak, hoor! Dit is doodgewoon onmoontlik om die hele omgewing te probeer skoonmaak, maar uit terugvoer van inwoners én besoekers is dit duidelik dat ons ‘n groot verskil gemaak het,” sê Strydom.
ATA is in 2022 deur lede van die Aberdeen Residents and Rate Payers Association (ARRPA) gestig. “Ons mandaat is spesifiek die bevordering en uitbreiding van toerisme in Aberdeen en omgewing. Dit sluit in om ‘n skoner, aanlokliker omgewing te weeg te bring,” sê Strydom.
Die dames het sakke en sakke rommel opgetel.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'