KAROO NUUS - Die jaarlikse Opening of the Season-jagkompetisie het vanjaar op 2 en 3 Junie op die klein Oos-Kaapse dorp, Jansenville plaasgevind.
Dié gewilde koedoe-jagkompetisie word as die amptelike opening van die jagseisoen, wat 1 Junie is, gekenmerk.
Deelnemers het op Donderdag 1 Junie na verskeie plase in die omgewing gegaan om aan die jagkompetisie deel te neem.
FOTOGALERY: Opening of the Season-jagkompetisie
Die top-25-deelnemers het Saterdagoggend, 3 Junie, douvoordag opgestaan en na verskeie plase vertrek om van 07:00 tot 14:00 na 'n koedoe te soek. Deelnemers het sewe ure gehad waarin hulle 'n koedoe moes vind, en is jagvorms teen 15:00 ingehandig. Die wind wat redelik sterk gewaai het, en die afgelope paar jaar se droogte, het baie jagters in die stof laat byt. In die top-25-afdeling is agt koedoes geskiet, en elf koedoes in die ope-afdeling. Hierdie top-25-deelnemers het ook aan 'n skietkompetisie deelgeneem.
Na die prysuitdeling om 20:00 is die naweek behoorlik op 'n gesellige noot, met 'n opskop van Adam Tas en musiek deur DJ - B Promotions, afgesluit.
Hierdie byeenkoms het een doel voor oë en dit is om geld vir verskeie behoeftige organisasies in te samel. Die jaar is Huis Van De Graaff en Vuyani Safe Haven in Graaff-Reinet geïdentifiseer, en sal van die fondse ook vir 'n nuwe projek, om vullisdromme in Jansenville te bou en die verfraaiing van dié dorp, aangewend word.
Die volgende borge word deur die organiseerders bedank, George-Kloppers, Karoo Lusern, OVK, Dentist@Health Graaff-Reinet en Despatch, Pick n Pay-Graaff-Reinet, Cape Style Wines, Merino-slaghuis in Gqeberha, Karoo taxidermy in Graaff-Reinet, Crown National-speserye, Noosveld-hoenders en Blackie Swart. Sonder hulle bydrae sal die kompetisie nie moontlik wees nie.
Uitslae:
Top-25-afdeling
- Eerste plek: Flippie Potgieter (koedoe - 48 3/8 duim) op Fransie Fourie se plaas, Fereiraslaagte
- Tweede plek: Enzo Jansen (koedoe - 44 3/4 duim) op Sakkie Taljaardt se plaas, Biesiesfontein
- Derde plek: Leon Crouse (koedoe - 42 1/4 duim) op Matie Gouws se plaas, Vaaldraai
- Vierde plek: Freek Zeelie (koedoe - 40 3/8 duim) op Bradley Dodds se plaas, Ivonia
Ope-afdeling
- Eerste plek: Stoffel Botha (koedoe - 40 7/8 duim) op Antoinette Botha se plaas, Platfontein
- Tweede plek: Francois Botes (koedoe - 40 5/8 duim) op Davin Kinghorn se plaas, Klipfontein
- Derde plek: Albert Senekal (koedoe - 40 1/4 duim op Lawton Truter se plaas, Angora
Top-25-skietkompetisie
- Eerste plek: Francois Botes
- Tweede plek: Berrie Barnard
Deelnemers wat meer oor volgende jaar se Opening of the Season-kompetisie op 31 Mei en 1 Junie wil uitvind kan die organiseerders David Kinghorn by 082 577 9073 of Stephen Kinghorn by 082 775 2330 skakel.
In die ope-afdeling het Stoffel Botha ‘n koedoe van 40 7/8 duim op sy ma, Antoinette Botha se plaas, Platfontein geskiet.
Foto's: Sonia Wahl
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’