WILLOWMORE NUUS -Elmor Primêr in Willowmore het Maandag, 23 Januarie oopgemaak nadat die skoolbeheerliggaam (SBL) en ouers verlede week geweier het om hul kinders skool toe te stuur as gevolg van 'n tekort aan onderwysers.
Volgens Zola Menze, voorsitter van die EFF op Willowmore, het hulle na 'n besoek vasgestel daar is vier te min onderwysers.
Menze is van mening dat die tekort dit onmoontlik maak vir die skool om behoorlik te funksioneer en dat die kinders van Willowmore 'n onreg aangedoen word. Hy het daarom 'n ernstige beroep op die departement van onderwys gedoen om in te gryp.
Die skoolhoof van Elmor Primêr, Adri Meyer, het bevestig dat die skool nie oopgemaak het nie. Sy verduidelik dat die tekort eintlik kompleks is.
Een van die leerkragte het afgetree en moet vervang word en 'n plaasvervanger moet vir 'n tweede leerkrag, wat tans op langtermyn siekverlof is, gereël word. Dan is daar 'n glad nie voorsiening gemaak vir twee broodnodige leerkragte op die skool se organogram nie. Meyer sê boonop tree nog 'n leerkrag binnekort af, wat die situasie sal vererger.
Na afloop van 'n vergadering tussen die SBL en Chris Jaftha van die Oos-Kaapse departement van onderwys se distrikskantoor, is daar op Vrydag 20 Januarie besluit dat die skool Maandag sou oopmaak.
Volgens die SBL-voorsitter, Winnie Titus, het Jaftha onderneem om dringend aandag aan die tekort te gee.
Graaff-Reinet Advertiser het probeer om kontak te maak met die distrikskantoor, maar dit blyk asof die telefoonlyne buite werking is omdat oproepe nie beantwoord word nie.
Vorige artikel: Elmor Primêre skool se deure uiteindelik oop
'Ons bring jou die nuutste Willowmore, Tuinroete nuus'