HOFMEYR NUUS - Hofmeyr Hugs of Hope, die vinnig-groeiende opledingsinstansie in Hofmeyr, het onlangs 'n opleidingskoördineerder aangestel.
"Die verskillende opleidingsgroepe groei met rasseskrede, en ons span vrywilligers kon eenvoudig nie meer byhou nie," sê Teresa Opperman, bestuurder en stigter van die instansie.
Katrina Olifant, 'n gekwalifiseerde mode-ontwerper, het praktiese ervaring as fabrieksbestuurder waar Pep Stores se klere gemaak word, en later ook as hoofkoördineerder en opleier by The House of Monatic in Kaapstad.
Sy het van Welkom, waar sy in 'n boetiek haar eie modereeks bemark het, na Hofmeyr verhuis. Sy wil 'n rustiger lewe in die Oos-Kaapse platteland geniet en het ook talle familielede in Steynsburg.
Sy bemark haar skeppings landswyd en sal voortgaan om haar kliënte te diens, terwyl sy plaaslik opleiding doen, waarna sy sal besluit watter van haar leerders die nodige aanleg het om aan te sluit by haar produksiespan.
Sy geniet dit veral om met Nigeriese materiale en produkte vanuit midde-Afrika te werk.
Die naaldwerkers en ontwerpspan by Hofmeyr Hugs of Hope sien uit om onder haar leiding te leer hoe om 'n besigheid te bedryf en gehalte, kreatiewe produkte te maak en ontwerp.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'