GRAAFF-REINET NUUS - Groot opgewondenheid het Maandagmiddag by die Dr Beyers Naude-munisipaliteit geheers met die ontvangs van 'n splinternuwe afvalkompakteertrok van R2,25-miljoen.
Volgens Gewnynne Hermanus, direkteur van gemeenskapsdienste, is dié trok die begin van groot dinge.
Die trok is geskenk deur die departement van omgewing, bosbou en visserye nadat die munisipaliteit se direktoraat vir gemeenskapsdienste daarvoor aansoek gedoen het.
Benewens die trok is ook twee splinternuwe brandweervoertuie ontvang. Hermanus verduidelik dat die tekort aan finansies in die munisipaliteit 'n innoverende benadering tot dienslewering noodsaak.
"Dit word van die direkteure verwag om inisiatief aan die dag te lê en daarom het ek en my bestuurders, Sonwabo Langbooi en Rory Boggenpoel, die vullisverwyderingsprobleem in die munisipaliteit aangespreek. Ons het besluit om 'n besigheidsplan by die departement in te dien, waarin ons gevra het vir trokke omdat ons nie behoorlike dienste daarsonder kon lewer nie. Ons het ook in al ons verslae aan die plaaslike regering genoem dat die munisipaliteit nie trokke het om dienste mee te lewer nie."
Burgemeester Willem Safers het dit ook onder die Oos-Kaapse premier se aandag gebring.
Hermanus glo dat die trok 'n oplossing vir Graaff-Reinet se kort- sowel as mediumtermyn vullisverwyderingsprobleme bied. Buiten die feit dat die trok vullis-verwyderingsdienste onmiddellik sal verbeter, is die trok ook toegerus met 'n wielietjiesdrom (wheelie bin)-stelsel wat verdere verbeterings in die toekoms moontlik maak. Hermanus sê die doel is dat alle huishoudings mettertyd met wielietjiesdromme toegerus word. Mense sal self daarvoor moet betaal, maar hulle kan dit afbetaal.
Die direktoraat het aanvanklik aansoek gedoen vir twee trokke en geelvloot-voertuie, wat afgewag word. "Ten spyte van die feit dat die munisipaliteit nie geld het nie, maak ons elke dag planne," sê Hermanus.
Raadslid Joy Williams, direkteur Gewnynne Hermanus en burgemeester Willem Safers.
Direkteur Gewnynne Hermanus en burgemeester Willem Safers.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'