GRAAFF-REINET NUUS - Die uitgestrekte Camdeboo Nasionale Park buite Graaff-Reinet wat 194 km² beslaan, is van 1 April in die bekwame hande van parkbestuurder Brent Whittington.
Die nasionale parkeraad het onlangs bekendgemaak dat Whittington (41) aangestel is as Camdeboo-parkbestuurder en oorgeplaas word van die Ai-Ais Richtersveld Oorgrenspark.
Hy het die afgelope week Graaff-Reinet en die Camdeboo Nasionale Park besoek en die Advertiser het met hom gesels terwyl hy in die omgewing was.
Whittington het tonne ervaring en 'n uitstekende reputasie.
Hy het op 1 Februarie 2016 by die Ai-Ais/Richtersveld Oorgrenspark begin werk en het sedertdien die park se bergfietsroetes en staproetes tot op die hoogste wêreldstandaard verhef.
Hy was voorheen betrokke by die Tuinroete Nasionale Park, en by Tembe Olifantpark waar hy vir vyf jaar as renostermonitor gewerk het.
Hy het ook ervaring opgedoen in die Seychelles waar hy op Fregate-eiland gewerk het en is sedert 2009 permanent in diens van SANParke.
"Ek was ook bevoorreg om vir vyf wonderlike jare as jong bewaarder die pos as senior areabestuurder by die Nossob Nasionale Park te kon beklee, en is in daardie tyd getroud. Ons tyd by Nossob was 'n groot avontuur," sê Whittington.
Whittington het in Benoni in Gauteng grootgeword en natuurbewaring aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie gaan studeer. "'n Besondere geleentheid het hom voorgedoen en ek kon vir 'n jaar na Disney World in Florida gaan. My eerste aanstelling na my terugkeer was by die Temba Olifantpark in KwaZulu-Natal en ek was bevoorreg om my loopbaan onder die legendariese natuurbewaarder Nick de Goede te begin."
Sy eerste prioriteit by die Camdeboo Nasionale Park is die opstel van 'n parkbestuursplan.
"Dit moet elke tien jaar gedoen word. My voorganger, Mzwandile Mjadu, het versoek dat dit tot 2023 oorstaan, en dit is juis die rede van my besoek. Hierdie parkbestuursplan neem 'n volle jaar om op te stel, en op hierdie stadium het ek nog nie eers die personeel ontmoet wat my daarmee sal help nie. Die opstel van so 'n parkbestuurstelsel is 'n groot verantwoordelikheid, want daar moet ook met die veranderinge in die natuur rekening gehou word."
Stropers in sy visier
"Ongelukkig loop die park deur onder wildstropers, en word daar op 'n gereelde basis onwettig wild gevang met slagysters en strikke. Ek gaan regtig skouer aan die wiel sit om hierdie misdade te stop en die skuldiges aan die pen te laat ry. Bewaring en bestuur lê my baie na aan die hart."
Whittington wil ook betrokke wees by die ontwikkeling en opgradering van die park. "Ons moet aktiwiteite ontwikkel en 'n verskil maak!"
Sy vrou, Madel en hulle kinders Sabian (9) en McKayla (amper 8), sien ook uit na al die nuwe uitdagings wat hulle van 1 April vanjaar tegemoetgaan.
"Ek is getroud met 'n wonderlike vrou wat haar Godgegewe talente gebruik om haar lewe en tyd in ons kinders te investeer. Ek sien ook uit om met my stokperdjies voort te gaan. Ek werk graag met my hande, is baie erg oor ou motors en ou musiek - dalk is ek in die verkeerde era gebore? Ek ry graag bergfiets, alhoewel ek myself nie as topfiks sou beskryf nie. My gesin is vir my belangrik en ook my kerk."
Whittington se leuse in die lewe is: "Geen opoffering, geen oorwinning!"
Graaff-Reinet en omstreke verwelkom die Whittingtons met ope arms en hoop dat hulle oorwinnings die opofferings heeltemal sal oorskadu.
Die Camdeboo Nasionale Park is in 1979 verklaar tot bewaringsgebied onder die naam Karoo Natuurreservaat en is op 30 Oktober 2005 deur Die Suid Afrikaanse Nasionale Parkeraad geproklameer.
Die park beskik oor 'n unieke landskap en is 'n vertoonvenster van alle ekosisteme wat in die Karoo voorkom. Johannes Jaantjies hou tot 1 April die fort as waarnemende parkbestuurder voor hy die leisels oorneem as areabestuurder van die Kabouga-gedeelte van die Addo Nasionale Olifantpark.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'