HOFMEYR SPORT NUUS - Hofmeyr se sportklub bied gereeld toernooie aan en die rolbalklub is welbekend. "Spelers reis ook graag na omliggende dorpe," sê Renel Vermaak, sekretaresse van die klub.
"Aanvanklik was daar net tennisbane nadat spelers in 1962 met mening geld insamel het, en kort voor lank kon dié tennisbane aangelê word. Die Hofmeyr-tennisklub het in 1963 van hul ou bane in Retiefstraat getrek na die nuwe bane," vertel Annette van Zyl, klubkampioen uit daardie era.
"Kort daarna is daar ook jukskeibane aangelê en 'n klubhuis gebou. Michael Lord sê hy onthou heerlike kinderpartytjies by die tennisklub, terwyl die ouers tennis gespeel het. Sy pa, Willoughby Lord (96), het ook SA kleure in veteraantennis behaal en tot onlangs nog gereeld gespeel.
"Tennisspelers het mettertyd ouer geword en teen die laat sewentigs het 'n groep begin beplan aan die rolbalbane. Die bane word goed in stand gehou en is deur die jare ontwikkel en toegerus met 'n besproeiingstelsel, klubtoilette en selfs twee stoordamme vir water," sê Renel.
"Sedert laat verlede jaar is daar weer hernude belangstelling in tennis onder die volgende generasie wat nou in Hofmeyr-distrik woon. Tot soveel as twintig tennisspelers daag op 'n Saterdag op. Die tennisbane het egter nou dringend aandag nodig. Een baan is herteer, maar die kostes is uiters hoog."
Sy sê Hofmeyr wil mettertyd ook weer tennistoernooie aanbied, maar dit gaan heelwat werk en finansies verg.
"Ons hoor graag van omliggende dorpe as hulle ons dalk met advies en inligting hieroor kan help."
Die Hofmeyr-rolbalkub se rolbalbane word goed in stand gehou. Die bane is op dieselfde terrein as die tennisbane.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'