QUEENSTOWN NEWS - "Blomme is my ontvlugting!" vertel Yvette Krummeck van Queenstown waar sy staan tussen massas begrafniskranse reg om afgelewer te word.
"Ek het vir baie jare, tot 2004, as 'n munisipale klerk gewerk, en hoewel ek besig gebly en 'n goeie salaris verdien het, het dit my nooit stimuleer nie. Ek het geweet ek moet iets skep."
Yvette het pragtige skilderye wat sy deur die jare geskilder het, en haar aanvoeling vir kuns, kleur en kreatiwiteit is sigbaar in haar huis, tuin, en groentetuin. "Ek wil elke dag met mooi goed werk, dit lig my gemoed."
Yvette het aanvanklik by Hofmeyr-munisipaliteit gewerk, en in 2004 na Tarkastad verhuis. Haar man, Desmond, is 'n landdros.
"Daar was geen werk nie. Ek moes diep delf om my nering te vind." Sy het begin om begrafniskransies te maak, en gou was daar 'n groot aanvraag. Sy het haar onderneming van Tanika Silk Flowers gedoop en ook begin kunsborduurwerk doen. "Al drie my kinders het verder gaan leer en danksy my begrafnisblommetjies kon ek bydra tot hulle studies," vertel Yvette.
"Tydens die lockdown moes ek noodgedwonge sonder my twee getroue helpers werk, en ek het later dag en nag blomme gerangskik. Ek voer my syblomme van China af in, en daar is vir my geen groter verrassing as om daardie massiewe doos oop te maak en derduisende blomme te sien nie.
"Ek het op hierdie stadium een dame wat my help. Daar is verskeie stappe voordat 'n begrafniskrans klaar is."
Haar werkswinkel in die motorhuis is 'n miernes van geordende bedrywigheid. Blomme word volgens kleurkode verpak en op die stadium werk sy slegs op bestelling. "Vreemd genoeg is daar week na week 'n nuwe gunsteling kleur.
Een week soek almal bruin kranse, die volgende week wit of lemmetjiegroen, of oranje, of pers. Ek moet dus altyd alle kleure in voorraad hê."
Net reg vir so 'n kleurvolle vrou!
'Ons bring jou die nuutste Queenstown, Karoo nuus'