ABERDEEN NUUS - Die vermiste Herold Booysen (Harry), 15 jaar oud, is Saterdag 26 November langs die Kendrew-pad in die veld deur 'n lid van die publiek gevind na 'n soekgeselskap van die polisie en boeregemeenskap onverpoos na die tiener gesoek het.
Die seun is Woensdagoggend, 23 November omstreeks 09:00 naby sy ouerhuis op 'n plaas ongeveer 25km buite Aberdeen laas gesien. Hy is Vrydag 25 November as vermis by die polisie aangemeld.
Die skaam, stil seun, ongeveer 1,65m lank en tenger gebou, is volgens sy pa, Jonathan Windvoël, anders as kinders van sy ouderdom.
"Sy kop raak partykeer só dat hy aan die loop raak hier in díe omgewing, maar hierdie keer is die langste wat hy nog weggebly het," sê Windvoël.
Die Graaff-Reinet Advertiser was Saterdag-oggend by die Aberdeen-polisiestasie toe die soektog hervat is, asook nadat die seun deur die lid van die publiek ingebring is.
Omdat Booysen gebrekkig kommunikeer, is dit onduidelik presies waar en hoe hy die dae en nagte in die veld deurgebring het. Dit was Saterdag egter opvallend dat hy weet hoe om sonder gebottelde water en padkos in die veld te oorleef. Alhoewel hy in die veld deur die son gekarnuffel is, was hy opsigtelik nie uitermate honger of ontwater nie.
'n Naby kennis van die gesin bevestig dat Harry nie voltyds skoolgaan nie:
"Ons het hom al hoeveel keer skool toe gevat en as ons weer kyk, dan kom hy hier aangestap op die plaas - terug huis toe; terug na sy pa toe. Hy wíl nie in die skool en tussen ander mense wees nie. Hy wil net hier op die plaas, in die veld, en by sy mense wees. Toe ek Woensdag van die werk af by die huis kom en vir Harry soek, het Melody (Harry se jonger sussie) gesê Harry is al vanoggend weg. Ons het gedink hy is maar weer vort dorp toe, al het hy my niks gesê nie. Ek wás bekommerd omdat hy nie gesê het nie en Woensdag was warm," vertel Windvoël.
"Toe hy Donderdagmiddag nog nie terug is nie, het ek hom self begin soek, want hy sê altyd as hy dorp toe loop en dan kom hy altyd die volgende dag weer terug. En Donderdag was ook nog warm. Ek was al Donderdag by die polisiestasie om vir hulle te sê die kind is weg."
Die hoofondersoekbeampte het hom skitterend van sy taak gekwyt in die koördinering van die uitgebreide soektog. Omdat dit plaaswêreld is en dit onbekend was in watter rigting Booysen gestap het, was deeglike koördinasie essensieel. Die noue, deurlopende kommunikasie en samewerking tussen die polisie en die boeregemeenskap het veral opgeval.
"Ons polisie hier is goed, jong. Dis juis omdat almal so kommunikeer op verskillende sosiale media-groepe dat ons op die uitkyk was vir die seun," sê een van die boere wat by die soektog betrokke was.
Die polisie het Saterdag bevestig dat die insident Maandag by die toepaslike departement aangemeld sou word. Voorts sou toegesien word dat maatskaplike ontwikkeling betrokke raak om 'n herhaling van gebeure te voorkom.
Herold Booysen
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'