GRAAFF-REINET NEWS — Die meegaande foto, geneem deur Adendorp-inwoner Piet Theron, wys 'n verskynsel wat volgens Theron 'algemeen voorkom teen die suidelike hange in die Graaff-Reinet omgewing'.
Theron meen hy word dikwels hieromtrent uitgevra en verduidelik dit graag.
"Die swart strepe wat jul sien is lyne van gebreekte ysterklip (doleriet) wat teen die wand af beweeg weens natuurlike meganiese verwering van doleriet plate in daardie omgewing," sê Theron.
Hy voer aan, "Tydens die baie koue tydperk, ongeveer 40 000 tot 18 000 jaar gelede, het daardie suidelike hange om Graaff Reinet vol ys geraak en tydelike gletsers (periglasiale toestande) het voorgekom.
Dit wil sê die berghellings was in die winter toe onder ys wat dan die klippe weens vriesaksie opgebreek het. Die klippe "treine" het teen die wande bly sit tot die ys in die somer smelt. Dan stroom die ysige spul soos 'n "smoothy" teen die helling af en die klippe bly later agter waar al die fyn modder en slik uitgewan is. Die klippe "treine" het dus geen grond nie en niks kan daar groei behalwe ligene nie. Nou, met die geweldige warm somers, braai die mangaan letterlik uit die klippe en word as "woestyn varnish" op die klippe agtergelaat, wat dit so laat blink in die son. Die mangaan-lagie is maar enkele dele van 'n millimeter dik, maar maak dat die klip geweldig hard en blink is.
Gedurende koue winters sneeu dit soms teen die rante, water syfer tussen die klippe in en gedurende die nag fries die water- dit verplaas die klippe teen die helling af - so die goed beweeg die hele tyd, hierdie beweging maak dat die plante wat probeer groei se wortels elke keer afbreek, so niks bly permanent daar groei nie - die "treine" bly oop en lyk soos lyne wat teen die berg voorkom. Die klippe beweeg letterlik elke dag 'n stukkie verder af. Baie keer kry mens ook dat blougroen alge, wat mangaan gebruik om kos te maak, die klippe letterlik beset en swart verf (Duits- "Tintenstrichten"- of ink strepe"). Dit maak die klippe nag swarter, en mooier."
'We bring you the latest Graaff-Reinet, Karoo news'