MURRAYSBURG | GRAAFF-REINET NUUS - Die vierde sybokhaarveiling van die huidige 2018 somer verkoopseisoen het op meer as een manier opskudding veroorsaak.
Dit was ‘n uitstekende veiling gehou deur CMW in die Sybokhaar Beurs te Port-Elizabeth op 17 April.
Daar was ‘n 5% opwaartse tendens, maar geen individuele prysrekords per lot is opgestel nie, alhoewel die mark bitter naby daaraan gaan draai het.
Bennie Conradie van CF Conradie Trust in die Murraysburg-distrik het egter ‘n nasionale prysrekord opgestel.
Dít teen ‘n gemiddelde prys vir ‘n volledige skeersel gelewer van R358.42/kg, wat ongekend is en die hoogste gemiddeld ooit.
Voordat so ‘n gemiddeld gekwoteer word (gewoonlik anoniem), word daar deeglik nagegaan of die skeesel volledig is en alle tipes haar insluit om ten volle teenwoordigend te wees. Daarby moet die skeersel-massa ook ten minste groter as 500kg wees.
Conradie skryf die uitsonderlike sukses van die skeersel toe aan - merkwaardig genoeg - die droogte, wat die haar baie fyner gemaak het, ofskoon dit ook natuurlik veroorsaak dat veel ingeboet word aan massa.
Die hele skeersel deurloop natuurlik ook die EGT- proses waar elke dier vooraf getoets word vir fynheid deur die CMW laboratorium (vesel-tak van OVK) in Port-Elizabeth.
Volgens Pierre van der Vyver, Bestuurder: Sybokhaar by OVK het hulle reeds groot verwagtinge gehad toe die toetsresultate beskikbaar word en deur hulle ontleed is om ‘n aanbeveling te maak aan Conradie.
Die totale fynheid skeerselgemiddeld het te staan gekom op 25.51 mikron,’n peil wat op sigself nog nooit behaal is nie.
Die feit dat hierdie droogte-skeersel steeds kon voldoen aan goeie gehalte-standaarde het baie te make met die feit dat ‘n Anogorabok oorspronklik ‘n woestyndier was en daardie kwaliteite steeds in die gene is.
Die Angorabok staan ook bekend as die dier wat die beste omset het ten opsigte van kos ingeneem teen vesel geproduseer.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'