RUBRIEK - Een van Oom Klaas se gunsteling onderwerpe waaroor hy nie in die publiek praat nie, is sy ma. "Heiligskennis – my goedjies, my goedjies ...," seg hy. "Sal ek net vir jou sê, een dag op een naweek in Mei, is hopeloos te min in 'n jaar."
"Maar as jy my nou vra oor die begrip ma, dan sien ek skape by 'n selfvoerkrip; ek hoor Stef Kruger se, Ma se Song en ek onthou Antjie Krog se gedig, Ma.
"Staan ek eendag by die skaapkraal. Klomp ooie en lammers in 'n ry by die selfvoerkrip besig om te vreet. Hier eenkant weg staan twee ooie; elk met 'n lam. Die lammers is nou nie meer wankelbeen nie, maar ook nog nie uitgegroei nie. So bly die twee ooie staan, want daar is nie regtig plek by die krip nie. Maar die twee lammers stap nader en druk-druk hulle koppe in tot elkeen plek kry; langs mekaar op die einde van die ry.
"Volgende sal die een ooi toe mos naderstap en sy stamp die ander ooi se lam wat op die hoek by die krip staan weg van haar lam af, en vat daai lam se plek oor by die krip. Jong, maar dit was sommer 'n stamp met mening en gevoel, hoor jy! Daai ooi het nie teruggehou nie; sy't gestámp, pappa!
"Sien ek die gestampte lam se ma staan nog steeds hier eenkant en bekyk die bedryf. Volgende begin sy naderloop, maar sy ignoreer haar gestampte lam - loop ongeërg by die lam verby - na die agterkant van die selfvoerder. Ek dog nogal by myself, tipies skaap, né? - vat dit maar en gaan net aan. Méns sou mos nét daar sy kleintjie loop beskerm het, maar nie skaap nie. Díé ignoreer haar lam en gaan net aan.
"Maar toe het daai ma-skaap mos al die tyd 'n laaang plan! Sy loop stadig ágterom die selfvoerder sodat sy van die verste ent van die ry skape af die stamp-ooi hier op die punt kan benader.
"Sy kom ewe rustig nader en toe sy so twee grootman-treë van die vretende stamp-ooi is, toe tel sy spoed op! Sy stamp daai ooi hier reg agter die regterblad, in die ribbes, dat daai skaap eintlik knipmes; dwars skuif en omval, hoor jy! En toe loop staan SY by die krip, draai haar kop en kyk vir haar gestampte lam tot díé weer kom inval waar dit was voor die stamp-ooi hom weggestamp het.
"Nou kyk hier, Boeta, jy weet mos ons hou nie regtig skape aan vir hulle intellek nie, né? Maar sien jy hoe smaak selfs 'n ma-skaap? Feit is: 'n REGTE MA verdra nie ongeregtigheid nie."
"'n Man wat pa word, verander ook, maar 'n vrou wat MA word ... jong, dis kompleet asof God self 'n grootser wysheid en 'n reguiter rigtingwyser in so 'n vrou kom inbou wat g'n kind of man in die lewe ooit kan begryp nie ... sulke vrouens is net anders; onverklaarbaar.
"Dis dan wat ek vir Stef Kruger eggo wanneer hy sing: ... wil net die beste gee vir haar kinders... Kan ek onthou die ferm lesse van die lewe vasgepen. Die grootste les van my ma is dat ek trots is dat God my God is.
"En natuurlik van desjare af Antjie Krog se gedig Ma aan haar ma, Dot Serfontein: jy maak my groot, jy beitel my... jou huis my enigste Bybel; jou naam my breekwater teen die lewe ..."
Oom Klaas sug: "Geen man is ooit te oud om sy ma se kind te wees nie. Terwyl jy nog kan, loop vat jou ma om haar lyf, vou haar toe en druk haar sag teen jou borskas vas, want sy is jou MA."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’