Video
CRADOCK NUUS EN VIDEO - In Cradock gaan almal, oud en jonk, dadelik weet wie Niekie Bouwer is as jy sou vra.
Niekie Bouwer is op 5 Augustus 1943 gebore en is reeds 80 jaar oud.
Oom Niekie, soos hy algemeen bekendstaan, is 'n kitaar- en konsertinaspeler van formaat en het op 12-jarige ouderdom begin kitaar speel en konsertina op 16.
Hy het homself geleer om alle instrumente te kan speel. 'n Ware musikant, dus. Die elektriese kitaar en konsertina is sy gunsteling instrumente.
Tydens 'n onderhoud met die Graaff-Reinet Advertiser vertel oom Niekie dat hy al die jare by Spoornet en by die Afdelingsraad gewerk het. Hy is toe later weer by Spoornet aangestel waar hy ook afgetree het.
Ná sy aftrede in 2009, het hy as opsigter by die skouterrein diens gedoen, maar hy het daagliks sy konsertina en kitaar nadergetrek en bykans elke naweek iewers opgetree.
"Dit was lank voor die tyd van plate- en CD-joggies by danse," skerts sy kleindogter, Lizane Auret, by wie hy nou woon.
Oom Niekie se eggenoot, Toetie, het hom op 17 September 2018 ontval.
Op 'n vraag na sy belangstellings en stokperdjies, gee oom Niekie net een antwoord: "Musiek!"
Hy tree nog op en het nog onlangs saam met die bekende Cradock-musikant en -sanger, Chris Brits, by die ouetehuis opgetree.
"Sommer nou die dag," sê oom Niekie van hul Kerskonsert op 22 Desember.
"Ek het ook op 24 Desember, saam met Chris Brits, by die AGS Kerk opgetree."
Lizane vertel dat daar twee video's op YouTube is van die Af-en-toe Boereorkes waar haar oupa saam met Chris Brits, Collie Maritz en Kierie Cronjé gespeel het.
"Oupa het in die sestigerjare 'n orkes, die Cradock-boereorkes gehad, waarvan net oupa en sy eerste kitaarspeler nog lewe. Oom Johan Mulder woon tans in Despatch."
Hulle het ook in 2010 'n CD uitgebring as die Af-en-toe Boereorkes waar Niekie Bouwer, Collie Maritz, Kierie Cronjé, Dean Bouwer (broer) en Ben Bouwer (broer) gespeel het.
Hierdie CD is gemaak terwyl oom Niekie se spiere en hande reeds verswak het weens 'n beroerte wat hy in 1991 gehad het, maar hy speel steeds, soms gaan dit net swaar.
"Oupa oefen gereeld met die konsertina en ek luister graag na sy musiek en sy stories," sê Lizane.
VIDEO: Oom Niekie laat waai met sy konsertina
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’